Suid-Afrikaners wys vernuf met uitstaande ruiterkuns by wêreldkragmeting
Uitstaande ruiterkuns is weer vanjaar met die kragmeting gesien.
Die vernuftige jong Suid-Afrikaanse Vyfgang Protea ruiterspan het verlede week geskitter met goud, en Amerika met silwer by die internasionale ruiterkunskragmeting wat in die Vrystaatse dorp, Parys gehou is.
Die Suid-Afrikaners wat deel was van die span, was Izabella Klein, Junika Hugo (kaptein), Marzaan Visser, Tiaan Fourie, Minke Hugo en Jemma Orsmond.

Die Suid-Afrikaanse Driegang-span het op hul beurt gespog met ‘n welverdiende silwer, met Amerika wat goud gevat het, en Kanada brons.

Suid-Afrika is in die driegang-klasse verteenwoordig deur Junika Hugo, Izabella Klein, Marzaan Visser, Megan Schnebel (kaptein), Minke Hugo en Korine Joubert.
Die Wêreldbeker Ruiterkuns-kompetisie word elke twee jaar aangebied en roteer tussen deelnemende lande. Vanjaar se kragmeting is op 12 en 13 Desember by die AfriDome in Parys gehou.
Volgens Bertus Pretorius, nasionale president van Ruiterkuns in Suid-Afrika, fokus die kragmeting op die vaardigheid van ruiters om die perde te vertoon met die klem op die ruiter se postuur en vermoë om te ry. Hy verduidelik dat ruiterkuns nie tot ‘n bepaalde perderas beperk is nie, hoewel saalperde, boerperde en Friesperde meestal die kern van ruiterkuns vorm.
Die Suid-Afrikaanse ruiters wat deelgeneem het was almal o18.

Twaalf ruiters het die Amerikaanse span verteenwoordig, en ses ruiters die Kanadese span.
Die Kanadese span het bestaan uit Khennedy Leubner, Georgina Sanche, Ava Rusinko, Kiara Crossley, Marissa Bieleny en Marlee Simon. Hulle word afgerig deur Sandra Fenstad-Sanche met Jessica Pelissero as spanbestuurder.




