Local newsNews
Vaaldam-grafsteen verdwyn spoorloos
Die grafte word net gesien wanneer die Vaaldam se watervlak baie laag is soos wat tans die geval is.
‘n Grafsteen van een van die geskiedkundige grafte onder die water van die Vaaldam het spoorloos verdwyn. Die skok-ontdekking is gemaak toe ‘n groep genealoë gister saam met van die nasate wie se familie hier begrawe is, die grafte gaan besoek het.
Waar die grafsteen van Roets (Du Preez) eens was, is nou na 131 jaar, net ‘n holte.


Die groep genealoë van GGSA, die Riemland Museumkomitee en verteenwoordigers van die Monument Jagters groep, het minder as ‘n maand gelede die geskiedkundige grafte by Deneysville met toestemming gaan besoek om foto’s te neem en meer inligting in te samel. Met dié besoek is na vergelyking met foto’s wat ongeveer in 2016 van die grafte geneem is, ook vasgestel dat die Van Vuuren-grafsteen nie meer daar is nie.


Die groep se navorsing oor die oorledenes het daartoe gelei dat van die nasate intussen opgespoor is.
Die span het ook vir die eerste keer die inligting en foto’s van elke graf met GPS koördinate begin dokumenteer.
Die oudste graf dateer uit 1893 voor die Anglo Boereoorlog.
Inligting oor die grafte is op die GGSA se databasis vir verdere navorsing, en ook beskikbaar by die Riemland Museum.
Jy kan ook meer oor die geskiedkundige grafte lees in die boek, Op die bodem van die Vaaldam, geskryf deur prof. Victor d’Assonville.
Met van die grafte wat tans sigbaar is weens die lae watervlak van die dam is foto’s van die grafte wyd op sosiale media gedeel.
Interessant genoeg is baie van die name op die grafstene na jare steeds leesbaar.
Die grafte is die laaste keer in November 2020 gesien, en voor dit in November 2016 toe die dam net 26,3% vol was.
Die watervlak van die Vaaldam staan tans op 24,34% soos vanoggend bevestig.
Die geskiedenis van die grafte:
Van die eerste Voortrekkers het rondom 1836 vir ‘n tyd uitgespan waar die Vaaldam vandag is, en het verskeie Voortrekkergesinne hulle ook gevestig waar Oranjeville en Deneysville vandag is.
So het dit gekom dat van die oorspronklike plaaseienaars en familie hier begrawe is. Die staat het later die plaas Oase, en ander grond onteien om die Vaaldam in 1938 te kon bou.
Mense wat enige inligting sou hê oor die vermiste grafsteen is gevra om kontak te maak met kobiestroh@yahoo.com of Peetschabort@gmail.com
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!



