
‘n Grootskaalse polisie soektog is begin na twee verdagtes wat vanoggend betrokke was by ‘n huisroof en moord op ‘n plaas in die Parys-distrik.
Polisiewoordvoerder kapt. Loraine Earle sê die egpaar het geslaap toe hulle om middernag in die huis op die plaas Môrelig oorval is. Die 57-jarige man is brutaal aangerand tydens die roof, en het aan sy beserings beswyk. Sy 61-jarige vrou wat ook aangerand en met kabelbinders vasgebind is, het die aanval oorleef.
Die verdagtes het wit oorpakke gedra en hul gesigte bedek. Nadat hulle toegang tot die huis gekry het, het hulle die sleutels van die gesinsvoertuig, ‘n Mahindra dubbelkajuit bakkie ge-eis.
Ten spyte daarvan dat die oorledene sy aanvallers gesê het dat die sleutels vir die bakkie in ‘n ander huis op die perseel was, is daar voortgegaan om hom aan te rand, terwyl die tweede verdagte die sleutels gaan haal het, sê kapt. Earle.
Die verdagtes het nadat hulle die sleutels gekry het, gevlug met die gesteelde bakkie en die vrou se selfoon.
Die vrou het toe die verdagtes weg is, gaan hulp soek by ‘n nabygeleë plaas.
Die bakkie is intussen verlate in die Tumahole-woonbuurt naby die treinspoor gevind.
Die oorledene en sy vrou het op die plaas gebly waar hulle ook werksaam was, het kapt. Earle gesê.
Die polisie vra dat dat enige inligting, hoe gering ookal wat kan help met die ondersoek deurgegee sal word na speur adjudant-offisier Brian Janse van Rensburg by 082 466 8094, of skakel 08600 10111. Inligting kan ook anoniem deurgegee word op die polisie se MySAPS selfoon toepassing.



