Na ‘n jaar van uitdagings met uiterste droë en hittetoestande, juig boere in die Parys en Vredefort distrikte oor die afgelope week se reën. Goeie deurdringende opvolgreën is juis nou baie nodig, nie net vir saaiboere nie, maar ook vir veeboere. Met wydverspreide reën wat sedert die naweek oor dele van die Vrystaat uitgesak het, word nog reën vir hierdie naweek ook deur die weerdiens voorspel.
Boere in die Parys en Vredefort-distrikte het vroeër die week voor die reën nog gesê hulle is bekommerd oor ondergemiddelde reënval, en weiding wat as die swakste in vyf jaar beskryf is.
Volgens Barry Coetzee, ‘n vee- en saaiboer van die Vredefort-distrik is net 31mm reën vir Desember in die distrik gemeet, wat baie minder was as die 146mm wat in 2023 oor Desember gemeet is. Met die eerste mielies wat reeds in saad is en sonneblomme wat nou blom, kan “die voete maar nou in die modder staan,” sê Coetzee.
Teen Maandag het hy nog net 25mm reën sover vir Januarie gehad maar na Dinsdag se reën ‘n lieflike 108mm totaal sover vir Januarie. Die totale reënvalsyfer wat hy in Januarie 2024 gemeet het, was 128mm.

Nog ‘n boer wat grond in die Parys en Greenlands distrikte het en anoniem met Gazette gesels het, vertel dat op sy grond wat binne 40km radius lê, onderskeidelik 242mm, 224mm en 167mm reën in totaal tussen September en November gemeet is. “Ek het dit nog nooit so gesien nie. Verlede jaar was ‘n swaar jaar. Ons het droog geplant en dit het mooi opgekom, maar van dit het gevrek weens die min reën. As dit reën, reën dit streep-streep.” Dinsdag was daar egter groot dankbaarheid oor die genadewater met 25mm, en tussen 40mm en 60 mm reën wat toe op sy grond gemeet is.
Vir veeboere bly daar net twee maande groeityd vir weiding oor, en is daar gejuig oor die reën, want vir die eerste keer in jare moes boere nog dié tyd van die jaar oor Desember/Januarie bale voer vir vee aanry as gevolg van die min reën. Vorige jare dié tyd kon daar al Smutsvinger gesny en gebaal word. Hennie Viljoen, ‘n veeboer van die plaas Vlensburg tussen Parys en Sasolburg, sê ook boere wil graag nou reën hê. Ook boere in die Koppies-distrik het die reën verwelkom, met min reën wat oor Desember in dié distrik geval het.




