Twee vandag voor die hof na plaasaanval in Parys-distrik
Die verdagtes is Sondag gearresteer.

Twee mans, onderskeidelik 22 en 29 jaar oud, verskyn vanoggend voor die landdroshof in Parys vir die brutale aanval op ‘n man en vrou Vrydag op die plaas Môrelig in die Parys-distrik. Die aanval het die lewe ge-eis van die 58-jarige Themba Motha wat aan sy beserings beswyk het.
Daar is ook intussen bevestig dat een van die verdagtes wat voor die hof sal verskyn, die seun van die vrou is wat aangeval is.
Polisiewoordvoerder sers. Josephine Rani sê die aanval het net na middernag gebeur. Die man en vrou is deur hul aanvallers oorval terwyl hulle geslaap het.
Die man is herhaaldelik aangerand, terwyl die 61-jarige vrou ook aangerand en met kabelbinders vasgebind is. Hoewel sy nie sigbare beserings gehad het nie, was sy erg getraumatiseerd, het die polisie verlede week in ‘n verklaring gesê.
Die verdagtes is na die aanval weg met ‘n Mahindra dubbelkajuit bakkie wat op die plaas gesteel is asook goedere ter waarde van R65 000.
Die vrou kon nadat die verdagtes gevlug het daarin slaag om hulp by ‘n naburige plaas te kry.
Die man en vrou het op die plaas gebly waar hulle ook werksaam was.
Die gesteelde voertuig is later dieselfde dag nog verlate naby die treinspoor in die Tumahole-woonbuurt by Parys gekry.
Die verdagtes is Sondag in hegtenis geneem en sal verskyn op klagtes van moord, huisroof, die diefstal van ‘n voertuig en diefstal van goedere uit ‘n voertuig, het sers. Rani bevestig.



