Plaasaanval: Verdagtes weer voor die hof
Die vrou kon nadat die verdagtes gevlug het, daarin slaag om hulp by 'n naburige plaas te kry.

Sandile Dlomo (29) en Karabo Lethoba (22) het Vrydag weer voor die landdroshof in Parys verskyn vir die aanval op ‘n man en vrou op die plaas Môrelig in die Parys-distrik ‘n week gelede.
Die brutale aanval het die lewe ge-eis van die 58-jarige Themba Motha wat aan sy beserings beswyk het.
Daar is intussen bevestig dat een van die verdagtes wat voor die hof verskyn het, die seun van die vrou is wat aangeval is.
Polisiewoordvoerder sersant Josephine Rani, het vroeër gesê die man en vrou is deur hul aanvallers oorval terwyl hulle geslaap het. Die man is herhaaldelik aangerand, terwyl die 61-jarige vrou met kabelbinders vasgebind is. Hoewel sy nie sigbare beserings gehad het nie, was sy erg getraumatiseerd het die polisie verlede week in ‘n verklaring gesê
Die verdagtes is na die aanval weg met ‘n Mahindra dubbelkajuit bakkie wat op die plaas gesteel is, asook goedere ter waarde van R65 000.
Die vrou kon nadat die verdagtes gevlug het, daarin slaag om hulp by ‘n naburige plaas te kry.
Die man en vrou het op die plaas gebly waar hulle ook werksaam was.
Die gesteelde voertuig is later dieselfde dag nog verlate naby die treinspoor in die Tumahole-woonbuurt by Parys gekry.
Die verdagtes is die Sondag na die aanval in hegtenis geneem en het in die hof verskyn op klagte van moord, huisroof, diefstal van ‘n voertuig en diefstal van goedere uit ‘n voertuig het sersant Rani bevestig.