Swaarste reuse gerat vir Goliat van Gat
Naas die swaargewig pampoene is daar vanjaar ook pryse vir ander reuse groentes op die spel - van groot tamaties tot bielie komkommers.

Boere en tuinliefhebbers regoor die land is reeds besig om hul reusagtige pampoene te versorg, terwyl die vraag op almal se lippe brand: Gaan die 2025-wenpampoen die vorige rekord van 890 kg oortref?
Vanjaar se Goliat van Gat Pampoenfees, word op 15 Maart by die Pretoria Ou Motorklub in Silverton gehou.
Een van die deelnemers, Cornelis Bester (47) van Heidelberg, Gauteng, weet dat sukses in hierdie kompetisie nie net afhang van goeie sade nie, maar ook van deursettingsvermoë. “Ontkieming was ‘n groot gesukkel hierdie seisoen,” vertel hy. “Geen van my eie pitte het op gekom nie, en ek moes ‘n ‘weeskind’-plantjie by Wykus Lamprecht kry.
Hierdie plant, ‘n Urena 1940 van Kalifornië, is middel Oktober geplant en groei nou mooi.” Cornelis het reeds vyf jaar ondervinding in die kompetisie en het in 2024 gewen met ‘n pampoen van 730.8 kg. Al was hierdie seisoen moeilik, is hy vasberade om deel te neem. “Of my pampoen nou klein of groot is, ek wil ander groeiers aanmoedig om ook deel te neem.
Petrus Mare (31) van Buffeldoorn, Fochville, vertel hy het ‘n vorige jaar se wenpampoen se sade gekoop. Na ‘n laat begin op 7 September, het sy pampoene se eerste spruite op 24 September verskyn. Ondanks ‘n koue front wat sy plante beskadig het, sterk wind wat die blare geskeur het, en sy voëls wat die blare as kos beskou het, het Petrus volhard. “Ek doen dit vir die opwinding om te sien hoe die pampoen groei – van iets klein, na iets wat jy met ‘n vurkhyser moet hanteer. Dit gaan nie oor wen of verloor nie, maar oor toewyding, inligtingsdeling, en die gemeenskap.”
Volgens Henri Combrink, organiseerder van die fees, heers daar groot opgewondenheid oor die 2025-kompetisie. “Die top 10 grootste pampoene sal pryse wen, en daar is ‘n spesiale junior kategorie vir kinders onder 16. Buiten die swaargewigte is daar ook pryse vir die mooiste en lelikste pampoen – so bring jou reus, of selfs ‘n vreemde een!”
Hierdie jaar is daar selfs ‘n nuwe kategorie waar ander groentes soos reusetamaties en bieliekomkommers ook pryse kan inpalm.
Vir diegene wat eerder hul kulinêre vaardighede wil wys, is daar ‘n pampoengereg-kompetisie met pryse vir die lekkerste pampoenpastei, pampoenpoffers of enige ander kreatiewe dis.
Feesgangers kan ook hul dag opkikker met ‘n verskeidenheid stalletjies vol eet- en drinkgoed.

Die top vyf wenresepte, sal in die Farmer’s Feast Print (Recipe Magazine) verskyn.
Stalletjie-aansoeke is steeds oop.
Maak seker jy mis nie hierdie unieke en opwindende fees nie! Vir inskrywings en navrae, kontak Henri Combrink by 082 552 9428 of stuur ‘n e-pos na culliboer@gmail.com.