Local newsNews

Nog geen datum vir voltooiing van opgradering by watersuiweringsaanleg

Gemeenskapslede en die media is Maandag by die suiweringsaanleg toegelaat waar geleentheid gegee is vir vrae, en ook vir mense om spesifieke probleme in hul woongebiede uit te lig.

Hoewel daar steeds nie ‘n datum is vir wanneer herstel en opgradering van Parys se watersuiweringsaanleg voltooi sal wees nie, voorsien Ngwathe se direkteur van Tegniese Dienste en Infrastruktuur, Patricia Morokolo, dat daar na verwagting teen volgende week ‘n merkbare verbetering in watervoorsiening behoort te wees wanneer herstelwerk aan nog een van die vier verhelderaars (clarifiers) by die aanleg voltooi is.

Morokolo het Maandag tydens ‘n besoek van gemeenskapsleiers saam met die Ngwathe bestuur aan die suiweringsaanleg terugvoer gegee oor wat reeds gedoen is deur die kontrakteur en subkontrakteurs. Die kontrakteur en sy span was egter nie Maandag by die aanleg nie, en is verduidelik dat dit weens protesoptrede van die gemeenskap is wat verhinder het dat werkers by die aanleg kon kom.

Gemeenskapslede, onder wie ook heelwat skoolkinders, het Maandag weens die voortslepende waternood in Parys, Tumahole en Schonkenville, vir die soveelste keer in die reën ‘n optog na die munisipale kantore gehou waar hulle hul frustrasies oor vuil water en droë krane gelig het. Vir baie van hierdie mense kom die gesukkel met munisipale watervoorsiening al vir langer as sewe jaar vertel Steven Molusi en Johannes Mopedi.

Hulle en ander protesgangers het gesê hulle is siek en sat vir leë beloftes, memorandums en vuil of geen water in hul krane. Hulle sê dit is nie net die gemeenskap wat swaar kry nie, maar ook skole, klinieke en besighede.
Die groep het aangedring om met die burgemeester, Victoria de Beer-Mothombeni, te praat. Sy het na die groep se frustrasies geluister en verduidelik dat die ernstige watertekorte is weens die opgraderingswerk by die watersuiweringsaanleg. Die burgemeester het gesê dat sedert met die kontrak begin is, die kontrakteur verskeie probleme geïdentifiseer het, wat telkens vordering vertraag het.

Sy het op beskuldigings dat die gemeenskap nie ingelig word oor waarom daar nie water is nie, geantwoord dat raadslede by wyksvergaderings met die gemeenskap moet kommunikeer maar dat inligting nie deurgegee kan word as wyksvergaderings deur die gemeenskap ontwrig word nie.

Sy het bygevoeg dat daar weer in al Ngwathe se wyke met die gemeenskap vergader sal word oor die waterkwessie.
Sy het daarna aangebied dat die groep van hul gemeenskapsleiers kon aanwys wat saam met die Ngwathe bestuur die watersuiweringsaanleg kan besoek om self te sien wat die vordering is. Nadat aanvanklik gesê is dat die besoek Dinsdag sou plaasvind, het die groep aangedring om Maandag reeds die suiweringsaanleg te besoek.

Die versoek is toegestaan en is van die gemeenskapslede en die media by die suiweringsaanleg toegelaat waar geleentheid gegee is vir vrae, en ook vir mense om spesifieke probleme in hul woongebiede uit te lig.

Daar is geleentheid gegee dat mense hul vrae kon probleme en probleme met watervoorsiening in hul woongebiede uitlig.

Morokolo het verduidelik dat herstelwerk en opgradering van die eerste van vier verhelderaars voltooi is, en dat ‘n betonblad by die derde verhelderaar wat ook die grootste kapasiteit het, Vrydag gegooi sou word. Weens reën kon dit nie gebeur nie. Sodra die betonblad môre gegooi is, is sewe dae nodig vir die beton om te verhard voordat verhelderaar nommer 3 weer in gebruik gestel sal word. Daarna sal begin word met herstel- en opgraderingswerk aan die oorblywende twee verhelderaars.

Die munisipale bestuurder van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, Dr Momthamaha, by clarifier nr. 3 waar opknappingswerk nou gedoen word. In die agtergrond is clarifier nr. 1 waar herstelwerk reeds voltooi is.

Morokolo het gesê dat meganiese en siviele werk gelyktydig by die aanleg gedoen word maar dat baie werk nog voorlê.
Van die beloofde vooruitsig dat ‘n rugsteun kragopwekker die suiweringsaanleg aan die gang sal hou wanneer kragonderbrekings die aanleg lam lê, veral tydens die wintermaande, gaan egter niks van kom nie.

Morokolo het bevestig dat die kragopwekker by die aanleg nie die kapasiteit het om die aanleg te dra nie. Sy sê daar sal gekyk word daarna om die kragopwekker eerder te skuif na waar dit beter aangewend kan word soos by Ngwathe se rioolaanlegte of kleiner watersuiweringsaanlegte.

Volgens die burgemeester word daar nog gewag vir befondsing vir die bou van ‘n direkte kraglyn na die watersuiweringsaanleg.
Van die gemeenskapslede het na die besoek aangedui dat hulle gaan aandring op ‘n opvolgbesoek om vordering te monitor.
Frustrasie en woede oor gebrekkige watervoorsiening en eindelose kragprobleme in Parys, Tumahole en Schonkenville het in Januarie 2023 breekpunt bereik met wydverspreide protesaksie wat grootskaalse ontwrigting vir sakelui en skole veroorsaak het toe mense uit woede watertenks en bande in die strate gebrand het.

Beide die munisipale bestuurder en die direkteur van tegniese dienste en infrastruktuur het Maandag die versekering gegee dat hulle die kontrakteur by Parys se watersuiweringsaanleg druk om klaar te maak.

Hulle sê hulle is positief dat die projek voor die einde van die jaar voltooi sal wees, en het te kenne gegee dat hulle tevrede is met die vordering wat tans gemaak word.

Dit is egter nie net Parys wat sukkel met eindelose waterprobleme nie.

Inwoners van Vredefort sit ook knaend sonder water. Die munisipale bestuur het Vredefort vroeër vandeesweek besoek om te kyk na oplossings vir dié dorp se waterprobleme waaroor raadslede byna daagliks rapporteer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button