Al minder musiek in skole gehoor
Die optrede van die FAK jeugsimfonieorkes hier in die platteland, is 'n gulde geleentheid vir die jeug van Parys om blootgestel te word aan die vreugde van orkesmusiek.

Die FAK se inisiatief om in 2022 die jeugsimfonieorkes saam te stel was ‘n ongelooflik nodige aksie vir die tyd waarin ons leef, sê Erna Rademan wat vir jare by skole en skolemusiek betrokke was. Die jeugsimfonieorkes (JSO) bied Sondag, 16 Maart om 11:30 ‘n gratis optrede aan op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys.
Rademan sê dit die orkes se optrede is ‘n absolute voorreg vir mense in die platteland, met al minder musiek wat deesdae in skole gehoor word weens die afskaffing van musiekonderwysposte by skole sedert 1995. Gevolglik verdwyn goeie skoolkore en duisende kleindorpse kinders kry nie meer die geleentheid om ‘n instrument by die skool te leer speel met ‘n uitstekend, gekwalifiseerde musiekjuffrou teen billike fooie nie. Selfs skoolkonserte is besig om te verdwyn, sê sy.
Aangesien die voorraad musiekleerlinge van die platteland tot ‘n druppende kraan afgeneem het, sluit hele afdelings by ons universiteite se Musiekdepartemente wat worstel om hul deure oop te hou.
“Die klein oes van jongmense wat in staat is om wel musiek te gaan studeer en kwalifiseer, word deur groot stadskole opgeraap. Plattelandse skole is 100% afhanklik van ‘n skoolhoof wat weet hoe belangrik musiekonderrig in die lewens van leerlinge is, en die saak dryf, meen sy.
“Daarmee saam is ‘n beheerliggaam nodig wat planne maak om ‘n musiekpos te skep, en ‘n gekwalifiseerde persoon aan te stel,” sê sy.
Hoe minder klavierleerlinge deur die sisteem opgelewer word, hoe minder van hulle kies die orrel as ‘n instrument. Derhalwe bloei plattelandse gemeentes en word hulle geforseer om ander alternatiewe vir musiek tydens eredienste te gebruik, sê Erna. Sy meen kerke lei eweneens hieronder. “Terwyl die musici in sommige gemeentes pragtig speel, en ‘n kardinale rol speel in die aanbiddingsoomblik, is dit ongelukkig ook so dat vanweë die gebrek aan musiekopleiding, gemeentes soms uitgelewer is aan onbevredigende musikale begeleiding, ” sê sy.
” Daar is bloedweinig plattelandse dorpe waar daar wel nog privaat, goed opgeleide musiekonderwysers is wat les gee, maar ouers betaal duur vir hierdie lesse en kan dikwels nie beskostig dat meer as een kind les neem nie.”
Die FAK se Jeugsimfonieorkes gee musiekliefhebbers onder ons die geleentheid om te streef na meer, sê sy. “Net om te sien dat kinders in die stad wel nog speel en so mooi speel, gee my hoop.
“Daarom moet ons hulle ondersteun en alles in ons vermoë doen om die orkes weer en weer platteland toe te laat kom,” voeg Rademan by.

Die optrede van die FAK jeugsimfonieorkes hier in die platteland, is ‘n gulde geleentheid vir die jeug van Parys om blootgestel te word aan die vreugde van orkesmusiek, sê Jan-Danie Malan, die FAK se Kultuurorganiseerder Sentraal en operasionele bestuurder by Udolpho.
Kom luister Sondag na dié besondere optrede van die groep jongmense – ‘n voorreg wat nie aldag gebeur nie, en dit boonop gratis.



