Speke sing om skole-boelies te stuit
Leerders by skole waar die groep aangedoen het, het kennis gemaak met Kaptein Bully Buster wat daar was om die boelies uit te snuffel en kinders te leer om hulself te beskerm teen afknouery.
Die Xtreme for Kids Cycle Tour groep het Sondag in Durbanville aangekom na ‘n uitmergelende 12 dae fietstoer oor 109km om afknouery en boeliegedrag by skole aan te spreek, en kinderveiligheid veral in landelike gebiede te bevorder,
Die fietsryers wat op 25 Februarie in Johannesburg weggespring het, het op die eerste dag van hul toer in Parys oornag, en is die Tataiso Primary School in Vredefort besoek waar met die kinders gesels is oor boeliegedrag.
Die toer is die eerste keer in 2013 aangepak in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Polisie Diens met wie Matla a Bana ‘n samewerkingsooreenkoms het. Matla a Bana, is ‘n nie-winsgewende organisasie wat oor die afgelope meer as ‘n dekade ‘n stem teen kindermishandeling geword het.
Aanvanklik was die doel van die toer om bewusmaking te skep vir beskerming van kinders teen mishandeling, en terselfdertyd fondse in te samel vir Matla a Bana. Daar is later besluit om die toer ook te gebruik om by skole in landelike gebiede uit te kom waar kinderbeskermingsprogramme nie altyd toeganklik is nie.
Die ses fietryers wat vanjaar vrywillig en sonder enige vergoeding die speke Kaap toe laat sing het, het hoë profiel sakemanne en ‘n verteenwoordiger van die SAPD ingesluit. Die spanlede was Garth Briggs, Izak du Plessis, Andre Thys, Kai Bllman, Holder Marshall, en a.o Jenestin Julies.
Leerders by skole waar die groep aangedoen het, het kennis gemaak met Kaptein Bully Buster wat daar was om die boelies uit te snuffel en kinders te leer om hulself te beskerm teen afknouery.

Matla a Bana het oor die jare verskillende programme in die vorm van kinderteater opvoerings ontwikkel wat spesifiek fokus op kinderbeskerming en om kinders te leer om hulself te beskerm. Nadat daar ‘n skerp toename in die gevalle van boeliegedrag was wat gerapporteer is na die Covid-19 pandemie, is ‘n program geskep wat spesifiek op boeliegedrag fokus.
Veertig skole in vyf provinsies is al besoek vir die aanbied van die boeliegedrag program en is 100 000 kinders regoor Suid-Afrika so bereik.
Benewens die bewusmaking wat Matla a Bana doen, help skep hul ook kindervriendelike rapporteringsfasiliteite by polisiestasies waarvan daar reeds 40 in Suid-Afrika is. Wetstoepassers word spesiaal opgelei om slagoffers van verkragting en mishandeling hier te kan bystaan, terwyl daar ook noodpakkies beskikbaar is vir slagoffers van dié misdaad.
Matla a Bana is in 2002 deur Monique Strydom begin nadat sy ‘n slagoffer van n gyselaarsdrama was.



