Local newsNews

Slaggat-toep kan help om paaie te verbeter

Altesaam 78 317 slaggate teen einde Januarie op die toepassing gerapporteer

Vala Zonke, ‘n arbeidsintensiewe program wat in 2022 deur die Departement van Vervoer bekendgestel is om slaggate regdeur Suid-Afrika reg te maak, het dit vir Jan en San Publiek moontlik gemaak om deur middel van die gratis Vala Zonke selfoontoepassing slaggate op die land se paaie te rapporteer.

Of dié toepassing vrugte afwerp is ‘n oop vraag. Engineeering News berig dat 78 317 slaggate teen einde Januarie op die toepassing gerapporteer is, maar dit is onseker hoeveel van dié slaggate herstel is.

Die oranje motors op die skermgreep is waar Pieter slaggate op die R59 gerapporteer het. Die grys motors is ander padgebruikers se aanmeldings.
Die Report-knoppie links onder neem jou na die onderste skerm met die groot “Report Pothole” knoppie vir wanneer jy ry.
Die skermgreep is van die R59 op die slegste stuk na die Parys vliegveld.

“Selfs slaggate wat wel reggemaak word is dikwels ‘n tydelike oplossing vir ‘n veel dieper strukturele probleem wat baie van die land se paaie teister,” sê Gavin Kelly, uitvoerende hoof van die Padvragvereniging.

Hy sê baie slaggate word gevul met die hoop dat die pad dan reggemaak sal word. Behoorlike ondersoeke moet egter gedoen word om vas te stel of die slaggate, soos ‘n tandholte, verdere ernstige skade in die onsigbare ‘nie-beskadigde’ gedeeltes van die pad aangerig het.

Kelly glo egter dat die publiek se rapportering van slaggate of padskade nie vrugteloos is nie, maar beslis ondersteun moet word deur ‘n effektiewe padherstelplan.

Pieter Meyer wat gereeld die R59 tussen Parys en die N1 ry, sê hy het al baie slaggate op die Vala Zonke toepassing gerapporteer.
“Op die toep lyk dit al of ek daardie stuk van die pad besit. Aanvanklik het ons foto’s geneem, maar dit is onprakties om by elke slaggat stil te hou. Nou is daar ‘n groot ‘report pothole’-knoppie wat ek bloot druk wanneer ek naby ‘n slaggat is, of selfs partykeer al verby is en moes koes,” sê hy.

Pieter en vele ander motoriste se klagtes oor die lewensgevaarlike slaggate op die R59 word beaam deur Kobus Britz van Parys Bande wat sê dat hulle gereeld voertuie kry met bande wat gebars of beskadig is. “Die meeste wat ons kry se skouers is stukkend wat beteken dat die band deur ‘n slaggat is,” vertel Kobus.

‘n Kontrakteur is tans besig met herstelwerk aan die teervlak van die R59 tussen Parys en die N1 oorbrug, en motoriste kan vertragings verwag weens ‘n stop/ry-punt. Herstelwerk sal na verwagting tot minstens April duur.

Spanne van die Vrystaatse Departement van Paaie sal terselfdertyd aandag gee aan slaggate op die R59 tussen die N1 oorbrug en Sasolburg.

* Vala Zonke is ‘n SANRAL (South African National Roads Agency) toep wat gebruikers van die toepassing op hoogte moet hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button