Jongboerkonferensie praat oor denkwyse van die moderne boer
Meer as 120 jongboere het die naweek TLU SA se Jongboerkonferensie by Future Africa, Universiteit van Pretoria, bygewoon waar gefokus is op die denkwyse van die moderne boer.
Sprekers soos Wian Süllwald (TLU SA se Jongboer van die Jaar 2024), Jaco Cilliers (van ProAgri), Johann Pretorius (uitvoerende hoof van Farming Portal en Agri News Net), Pieter Kleingeld (van NWK), Phile van Zyl (van ZZ2), Laurika du Bois (van Agri Skills Transfer), en Megaboer George Barnard het almal insiggewende gedagtes gedeel.
Jaco Cilliers van ProAgri het gesels oor die belangrikheid daarvan om betrokke te raak by TLU SA en georganiseerde landbou. Volgens Cilliers is dit noodsaaklik om aktief deel te neem, by strukture betrokke te raak, hand op te steek, op komitees te dien en kundigheid te deel. “Boerdery is nie net ‘n beroep nie; dis ‘n roeping,” het hy beklemtoon.
Johann Pretorius, uitvoerende hoof van Farming Portal en Agri News Net, het sy perspektiewe gedeel oor die onderwerp “Vroue se stem in landbou”, terwyl Phile van Zyl van ZZ2 jongboere uitgedaag het om buite die boks te dink en alternatiewe markte te oorweeg.

Clemens Senekal, voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee, sê die Jongboerkonferensie is die perfekte geleentheid vir Jongboere om by mekaar te kom en saam te gesels oor denkwyse van die moderne boer en die pad vorentoe.
TLU SA se Jongboere se vooruitsigte vir die jaar sluit in die jaarlikse gholfdag vir die TLU SA traumafonds, TLU SA se kongres, Kragdag, die Goliat van Gat Pampoenfees, en die Jongboer van die Jaar-kompetisie, sê Senekal.
Wian Süllwald, TLU SA se Jongboer van die Jaar 2024, het sy suksesverhaal gedeel en jongboere aangemoedig om deel te neem aan vanjaar se kompetisie.
Clemens Senekal is tydens die konferensie weer as die Jongboerkomitee-voorsitter aangewys. Wian Süllwald is as ondervoorsitter verkies en sy vrou, Irmarie Süllwald, as sekretaris.



