Skuldig Edelagbare, aan ‘n weldaad
Altesaam 42 lasbriewe is uitgereik waarvan vyftien van dié 'beskuldigdes' Vrydagaand gearresteer en voor die hof gebring is.

Daar was Vrydagaand min genade voor dié regbank, want skuldig was hulle skuldig – en dit vir ‘n goeie saak.
Soos elke jaar het dié prettige ‘Boete, Boei en Betaal-fondsinsamelingsprojek’ van Vrystaat Versorging in Aksie weer die lagspiere in oefening gehou vir die kwinkslae wat agter die tralies en voor die regbank gehoor is.
Die projek help jaarliks om die finansiële druk op VVA Parys te verlig met ‘n gemeenskap se harte en beursies wat oop is vir die nood van ander.
Sommige van die ‘aangeklaagdes’ het vooraf hul boetes betaal, maar daar was ook dié wat vir die pret self hul saak kom stel het voor die ‘landdros’ op die stoep voor Oak Creek Spur.
Daar is gepleit, onderhandel, gevlug en selfs ontsnap wat gesorg het vir groot pret onder die talle toeskouers wat vanjaar se projek ondersteun het.
VVA sê dankie aan elkeen wat betrokke was by die projek, die donateurs, toeskouers en hulle wat ‘gearresteer’ is wat gehelp het om van die aand ‘n sukses te kon maak.
Spesiale dank aan Jeneane Rossouw wat die aangeklaagdes bygestaan het met regshulp, Margory Mommsen wat die rol as staatsaanklaer met oortuiging gespeel het, Hugo Vermaak wat die laaste sê as landdros gehad het, Celest en Gerhard wat gehelp het met die arrestasies, kol. De Vos, Parys Sekuriteit, Giepie van Spur en Koepel TV.