Groot verskil met 80 gate minder
Baie strate in woonbuurte in die dorp is in 'n haglike toestand weens 'n gebrek aan onderhoud.

Die AfriForum-tak in Parys het Saterdag strate in die omgewing van plaaslike skole weer rybaar gemaak deur altesaam 80 slaggate te herstel. Sewe volwassenes en ’n kind het vir drie uur lank met 60 sakke teer gewerk om dié slaggate te vul. Die tak het veral gefokus op die enorme slaggate wat in Schilbachstraat en Eerstelaan gevorm het, asook die slaggate by die T-aansluiting op Van Collerstraat.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is die meeste strate in Parys in ’n haglike toestand omdat die munisipaliteit dit nie gereeld onderhou nie.

Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê die tak kry gereeld navrae van inwoners om slaggate te herstel, maar is dit onmoontlik om alles self te finansier en te doen.

“Die probleem is so omvangryk dat die plaaslike AfriForum-tak nie elke slaggat na behore kan vul nie. Die tak het daarom probeer om van die grootse gate in van die besigste strate te herstel. As elke inwoner op die dorp egter hande vat met AfriForum, kan daar ongetwyfeld groot veranderinge op die dorp gebring word,” sê Burger.