Vroue se pynlike stryd na sypaadjie-val
"Ek dink dit is 'n skande dat 'n sypaadjie so moet lyk. Dit is 'n tydbom vir ons ouer mense,"
Dit is nog ‘n lang pad na herstel vir die 81-jarige Lehane Rothmann nadat sy op 12 Februarie in Philipstraat op die ongelyke sypaadjie plaveistene geval het.
Rothmann het verskeie frakture opgedoen met onder meer beserings aan haar skouer, arm, heup en bekkenbeen.
“Vordering is baie stadig. Ek moet nog vir ‘n maand my baie stil gedra en loop swaar met baie pyn,” vertel sy.
Rothmann het voor International Clothing, oorkant Jet geval. Die plaveistene lyk asof daar ‘n aardbewing was, vertel sy.
“Ek is baie versigtig as ek daar loop, maar daardie oggend het iemand my gegroet. Ek het vir ‘n oomblik opgekyk. Dit is toe dat my voet vashaak, en ek die frakture aan die linkerkant van my lyf opgedoen het met die val,” vertel sy.
“Die spulletjie kos my al baie geld,” sê sy verder. Nie net moes sy vir twee weke na ‘n versorgingshuis gaan omdat sy totaal hulpeloos was en steeds is nie, maar was dit ook die koste vir ‘n ambulans, x-strale en medikasie wat in totaal al tussen R25 000 en R30 000 beloop.


“Ek dink dit is ‘n skande dat ‘n sypaadjie so moet lyk. Dit is ‘n tydbom vir ons ouer mense,” sê sy.
Rothmann is boonop nie die enigste wat al op die ongelyke sypaadjie plaveistene geval het nie.
Marie van Eeden was in Oktober 2024 saam met ‘n vriendin op pad om hul bestuurslisensies te gaan hernu en moes eers fotostate laat maak. Sy het voor Vengaland op die sypaadjie geval.
Marie vertel sy het aanvanklik nie die pyn gevoel nie, maar by die lisensiekantoor het haar voet begin swel, en is sy dokter toe. X-strale is geneem en sy is met ‘n voetstut huis toe.

Twee weke later kon sy steeds nie op die voet trap nie, en is toe met ‘n sonar gesien dat haar ligamente en tendon van haar voet geskeur is. Dit is nie op die aanvanklike x-strale opgetel nie. Die uiteinde was dat Marie amper twee maande met ‘n stut moes loop, toe met krukke en daarna weer met ‘n voetstut.
“Dit was nie ‘n grap nie. Ek sal dit vir niemand toewens nie. Dit het my fisies drie tot vyf jaar teruggesit. My kinders is ver. Ek bly alleen en ‘n vriendin moes my oral heen neem,” vertel sy ses maande na die voorval.
Ongelyke sypaadjie plaveistene in die sakekern, sementblokke wat inval op veral die sypaadjies in die omgewing van die munisipale kantore en die hof, maak dit onveilig vir voetgangers. So ook ander sypaadjies waar oor jare geen onderhoud gedoen is nie.


Die nie-winsgewende organisasie, MooiParys, het in November verlede jaar ‘n ernstige pleidooi tot die gemeenskap en sakelui gerig om te help om sypaadjies in die middedorp te herstel sodat voetgangers weer hier met gemak kan beweeg.
Braam Cilliers van MooiParys, vertel dat ongelyke sypaadjies ook ‘n swak indruk by toeriste skep wat die dorp besoek. “Die gedagte met die sypaadjie-projek was dat besighede, instansies of individue ‘n gedeelte van ‘n sypaadjie kon borg, of aanbied om te help met materiaal of arbeid om die sypaadjies wat dringend aandag kort, reg te maak. Net een persoon het hulp aangebied,” sê Cilliers.
MooiParys het ook vir die Lottoland Help-‘n-Dorp inisiatief aansoek gedoen vir hulp om onder meer te help met die regmaak van sypaadjies.
“Maar selfs bydraes vir die weeklikse skoonmaak van die dorp se strate en parke wat MooiParys al vir jare vrywillig doen, het afgeneem sedert 2024,” sê Cilliers. “Al die geld wat ons van donateurs kry gaan net so vir brandstof vir die grassnyers, en lone vir arbeiders wat help skoonmaak en grassny. Ons kry nie eens ‘n kwart van wat ons in 2024 gekry het nie en kan net vullis in die strate optel en hier en daar gras sny. Ons kry nou gemiddeld R4 000 per maand, waar ons al tot R16 000 per maand van Julie 2023 tot April 2024 gekry het,” vertel Cilliers.
“Hoewel elke bydrae help en baie waardeer word, kos dit geweldig baie om die dorp skoon en netjies te hou – veral die hoofstraat, dorpsingange, eilande en oral waar gras onnet is,” sê Cilliers.
Bydraes van die publiek en sakelui het in die verlede selfs gehelp om die begraafplaas te kon skoonmaak.
Sonder geldelike ondersteuning raak die taak by die dag moeiliker. Daarom hou MooiParys einde Mei ‘n gholfdag om fondse in te samel vir die verdienstelike werk wat die organisasie doen.
Mense wat betrokke wil raak by MooiParys kan ‘n WhatsApp na Braam stuur by 072 779 4079, of Paul by 084 818 3123, of gebruik die volgende bankbesonderhede om ‘n bydrae vir MooiParys te maak: MooiParys, Absa, takkode: 005920, rekeningnommer: 410 5545 894.



