SA paaie weer gevaarlikste wys studie
Studie wys mense dra nie hul sitplekgordels nie.

Suid-Afrika is vir die tweede jaar agtereenvolgens volgens ‘n studie wat deur die aanlyn opvoedkundige bestuursplatform Zutobi gedoen is, gelys as die land met die gevaarlikste paaie vir motoriste. Die studie toon dat Suid-Afrika 24,5 padsterftes uit elke 100 000 mense het. Die syfer is meer as wat in 2024 met die studie bevind is.
Dit ten spyte van die 120km/h spoedgrens op Suid-Afrikaanse paaie wat soortgelyk is aan lande met veiliger paaie soos Noorweë.
Noorweë is vir die vierde jaar in ‘n ry aangewys as veiligste land om te bestuur. Ysland wat in 2024 onder die top vyf veiligste lande gelys was, is nou tweede op die lys, met Japan derde.
Die gevaarlikste lande om te bestuur is steeds onveranderd soos wat in 2024 met die studie bevind is met Thailand en die VSA wat naas Suid-Afrika van die onveiligste lande is om in te bestuur.
Padsterftes per 100 000 mense, het gemiddeld in alle lande wat deel was van die studie afgeneem van die 2024 studie resultate van gemiddeld 8,9 na 6.3.
Bosnië se padsterftesyfer het egter met 86% gestyg van 7,35 na 13,7 per 100 000. Padsterftes in Maleisië het weer gedaal van 22.5 na 13.9 per 100 000 mense.
Een van die groot kwessies wat deur die studie uitgewys word, is hoe min motoriste erns maak met die dra van sitplekgordels. Die studie het gevind slegs 31% van insittendes wat voor in n voertuig sit, gordel vas, terwyl die syfer vir Noorweë 97,8% is.
Padveiligheid word egter deur verskeie faktore beïnvloed – van sitplekgordels tot padtoestande, en verkeersverwante beserings.
Zutobi het vir die doel van die studie statistiek van lande oor die wêreld geanaliseer, gebaseer op onder meer hoofweg spoedbeperkings, die beperking van bloedalkoholvlakke vir motorbestuurders en padsterftes om sodoende te bepaal watter lande die gevaarlikste en veiligste paaie het. Die studie wys ook op belangrike kwessies om padveiligheid en motoriste se gedrag op paaie te verbeter.