Aandag sal gegee word aan Vredefort-pad se gate
Bykomende spanne is vroeër op die R59 tussen die N1-oorbrug en Parys geplaas om herstelwerk aan slaggate te bespoedig met die oog op hoër volumes verkeer wat met die Paasnaweek verwag is, maar skep talle groot en diep slaggate hier nog n baie ernstige gevaar vir motoriste.

Die paaie departement sal in die komende week aandag gee aan die slaggate op die R59 vanaf Parys na Viljoenskroon. Verskeie motoriste het die afgelope week gewaarsku oor veral gevaarlike slaggate op die gedeelte van die R59 tussen Parys en Vredefort.
Met die Nampo Oesdag wat van 13-16 Mei vanjaar gehou sal word, sal die roete weer swaar verkeer dra.
Die afgelope weke is ook steeds gewerk aan die R59 tussen die N1-oorbrug en Parys waar talle motoriste al gestrand was met bandskade as gevolg van groot en diep slaggate op dié pad.
Hillary Mophethe, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Polisie, Paaie en Vervoer het vroeër aan Gazette bevestig dat die R59 dringende aandag kry. Sy het gesê bykomende spanne is sedert verlede week hier geplaas om herstelwerk op die R59 tussen die N1 en Parys te bespoedig, veral met die oog op hoër volumes verkeer wat met die
Paasnaweek verwag is.
Die R59 via Parys is ‘n alternatiewe roete vir die N1, en beweeg heelwat swaar voertuie daagliks op die roete.
Motoriste is vroeër dringend gewaarsku om spoed te verminder op die R59 met baie van die gate tussen dele wat vroeër al herstel is, wat saans en in reën en mistige
toestande moeilik sigbaar is. Spoedvermindering is belangrik vir jou eie en ook konstruksiewerkers op die pad se veiligheid. Die gate skep n ernstige gevaar.

Bande-ondernemings in Parys het verlede week gesê die skade van mense op die R59 is nie net aan bande nie, maar ook wielvellings. spesifiek as gevolg
van die slaggate. Pieter Reynecke, bestuurder by Dunlop Express, sê dit was so erg dat hy al tot agt kliënte op ‘n dag moes help wat skade op die R59 gehad het. Hy sê selfs teer wat onlangs gebruik is om ‘n gedeelte van Parys se hoofstraat reg te maak, is binne dae uitgery. Soos hy, is ander motoriste vies oor herstelwerk wat knaend gedoen
word net om ‘n paar maande later weer te koes vir nuwe slaggate.
‘n Kontrakteur met meer as 20 jaar ervaring wat op voorwaarde van anonimiteit met Gazette gepraat het, sê verkeerde metodes en materiaal is dikwels die rede waarom herstelwerk nie hou nie, en is daar boonop nie altyd die ervaring en kundigheid nie.
Die haglike toestand van die R719 tussen Wesselsbron en Bothaville, het boere in dié distrik onlangs genoodsaak om self te begin herstelwerk doen aan die pad wat ‘n belangrike vervoerroete vir boere en verskaffers is. Ook die roete dra jaarliks swaar Nampo-verkeer.
Met sonneblom-oeste wat van die lande af moet kom, was die pad bykans onrybaar vir vragmotors, en moes dringend plan gemaak word, omdat die swak toestand van die pad nie net probleme met aflewerings veroorsaak het nie, maar groot skade vir motors en vragmotors veroorsaak het.



