Local newsNews

Kultuur die brug tussen oudhede en efenis

’n Oudheid laat ’n individu lekker voel, maar erfenis laat ’n kultuurgemeenskap leef.

Gedeelde belange bring mense bymekaar, en waar mense saamkom, word kultuur gesmee.

Kultuur leef nie net in die tasbare dinge nie; dit bestaan ook in die simboliek wat ons daaraan heg. ’n Grappie wat uit ’n nuusgebeurtenis ontstaan, ’n kunstige foto van ’n

sonsondergang met ’n mooi byskrif op sosiale media – dit is klein oomblikke wat groter betekenisse dra. Dit is hoe ons sin maak van die wêreld en hoe ons ons stempel

afdruk op diegene om ons.

Ons lewens word gevorm deur die nisse wat ons vir onsself uitkerf, en sonder om dit te besef, beïnvloed ons die mense rondom ons. Só word nalatenskap geskep – en wanneer daardie nalatenskap ’n breër invloed uitoefen, raak dit deel van ons Afrikanererfenis.

Ons kultuur, en daarmee saam ons identiteit, is voortdurend vormend, in wording. Dit is in hoe ons praat en mekaar aanspreek, wat ons eet, hoe ons tradisies vorm en volg, die stories

wat ons as kinders gehoor het, en die woorde wat ons gebruik as ons regtig kwaad of opgewonde raak. Soos elke volk op aarde, het Afrikaners ’n nalatenskap waarop ons trots

kan wees – een waarmee ons onsself vereenselwig en wat as rigtingwyser dien vir die geslagte wat volg.

’n Mens kán nie anders as om opgewonde te raak oor die bewys van sy bestaan nie. Monumente, argitektuur, kleredrag, geregte, literatuur – dit alles is bakens van wie en

wat ons is. Of jy nou ou seëls of kompakskywe versamel, of jy jou hart op ’n Victoriaanse tafeldoek of ’n antieke fiets verloor, daardie drang om iets van die verlede aan te raak en

vas te hou, lê diep met ons menswees verweef.

Daarom het pandjieswinkels en oudhedewinkels ’n bekoring wat nooit sal verdwyn nie. Of dit nou ’n ongekunstelde gebou op ’n plattelandse dorpie is waar jy ’n winskopie onder die

stof uitkrap, of ’n boetiekwinkel is waar jy net kan kyk en droom – ons hou daarvan om sin te vind in die spore van die verlede.

Dit dra betekenis om iets soos ’n geroeste ploeg in die veld op die familieplaas op te tel en dit in ons voorstedelike tuin uit te stal. Of ons tel die eerste uitgawe van Langenhoven

se Versamelde Werke-bundel by ’n kunsmark op en stal dit in ons voorportaal uit. Só gee ons inhoud aan ons eie verhaal én aan die verhaal van ons mense.

Maar kultuur is nie net erf nie – dit is ook skep. Ons wíl Geloftedag herdenk, ’n Mampoerfees bywoon, resepteboeke skryf, ’n koorkomitee begin, of grafte in die

Heldeakker skoonmaak. Dit is nie ’n las nie, dit is ’n voorreg – ’n manier om aktief deel te wees van iets groter.

Vir sommiges het oudhede beleggingswaarde. Maar vir die meeste van ons dra dit sentimentele en estetiese waarde. En dit is daardie sentiment wat gekoester moet word, want dit is wat ons verbind aan ons voorgangers – die mense wie se lewens ons eie moontlik gemaak het, en wat steeds rigting aan ons toekoms gee.

Erfenis is nie iets vaag of vervreemdend nie. Dit hoef nie met politieke bagasie gelaai te word nie. In werklikheid het politieke besluite selde ’n blywende invloed op die kulturele

hartklop van ’n gemeenskap.

Nalatenskap dien as ’n rigtingwyser vir wat ons wil en nié wil wees nie. Dit is belangrik om te besef: die band wat jy met ’n voorwerp het, is nie dieselfde as die

band wat jy met mense en ’n gedeelde geskiedenis het nie. Kultuur lê in die simboliese raamwerk wat ons dade betekenis gee.

Melrose-huis sitkamer (Foto: Du Preez de Villiers)

’n Bybel wat al vir vyf geslagte in jou familie is, kan ’n antieke stuk wees. Maar die feit dat julle as familie nog saam daaruit lees en bid – dít is jou erfenis.

Oudhede word elke dag geskep en mettertyd waardeer. ’n Oudheid laat ’n individu lekker voel, maar erfenis laat ’n kultuurgemeenskap leef.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button