Skoenlappers van die Koepel: Waarom moet ons hulle bewaar?
Baie van die skoenlapperspesies in die Koepel het dan ook besondere mooi vlerkpatrone wat biologiese funksies
Daar is reeds 120 skoenlapperspesies in die Vredefort Koepel Wêreldefenis-gebied aangeteken – meer as twee keer soveel
skoenlapperspesies as in die Verenigde Koningkryk, en meer as vier keer soveel skoenlapperspesies as wat in Nieu-Seeland voorkom. Die vraag is – waarom kom daar soveel skoenlapperspesies in die Koepel voor?
Ekoloog en skoenlapperkenner, Reinier Terblanche, sê die antwoord lê opgesluit in habitatbewaring as die sleutel tot skoenlapperbewaring. Hy sê baie skoenlapperspesies gebruik net een of twee soorte inheemse plantspesies as gasheerplante waarvan hulle larwes kan leef. So byvoorbeeld gebruik die hintza-bloutjie (Zintha hintza) alleenlik die inheemse blinkblaar wag-‘nbietjie (Ziziphus mucronata) as gasheerplant vir hulle larwes.

“Die bosveld silwerkoldubbelstert (Eriboea jahlusa rex) is ‘n bosveldspesie wat in die Vredefort Koepel voorkom omdat sy gasheerplant die dopperuim (Pappea capensis) in sekere mikroklimate in die Vredefort Koepel voorkom,” sê Terblanche,
Hy voeg by dat daar wel skoenlapperspesies is soos die sondagsrokkie (Vanessa cardui) wat kon oorskakel na die gebruik van uitheemse plante en wat inderdaad baie plantsoorte as voedsel vir hulle ruspes kan gebruik. Sulke skoenlapperspesies, soos die sondagsrokkie, is dus baie volop.

ook genoem die Painted Lady. Foto:
Ferdie Jordaan.
Vir die meeste skoenlapperspesies wat in die Vredefort Koepel voorkom is bepaalde inheemse plantegroei in
die geskikte mikroklimaat noodsaaklik vir hul voortbestaan.
Baie van die skoenlapperspesies in die Koepel het dan ook besondere mooi vlerkpatrone wat biologiese funksies verrig soos kamoeflering, waarskuwing dat hulle giftig is, en ook vir verwarring. Dit alles om predasie te vermy.
Ook hiervan het die Vredefort Koepel baie sulke voorbeelde, vertel Terblanche. Volgens hom het skoenlappers in die Vredefort Koepel toerismepotensiaal. “Iets wat mens nou kan sê omdat al hoe meer mense die kleiner organismes in die veld begin waardeer. Skoenlappers is lewende kunswerke en daarom moet ons hulle bewaar.”




