Gloukoom: Die dief in die nag
As gloukoom vroegtydig gediagnoseer word, kan dit behandel word met oogdruppels en soms laser en ander chirurgie.
Gloukoom is wêreldwyd die hoofrede vir onomkeerbare blindheid. Tog het meeste mense nie ’n idee wat dit is nie.
loukoom ‘n kondisie of siekte soos diabetes of bloeddruk is. Iemand wat gediagnoseer word met diabetes word lewenslank daarvoor behandel, en dit is dieselfde met gloukoom. Nou vra jy dalk: “Hoe sal ek weet ek het gloukoom?”, en dit is ‘n baie belangrike vraag. Die groot probleem met chroniese gloukoom, is dat mens aanvanklik geen simptome het nie, en daarom word dit die ‘dief in die nag’ genoem.
‘n Mens het wel pyn met akute gloukoom, maar dit is baie skaars, sê Smit.
Aangesien die persoon aanvanklik geen simptome ervaar nie, hang die diagnose af van die vaardigheid en toerusting van die oogkundige/dokter/oogspesialis. Ongelukkig sien ons gereeld pasiënte wat vir die eerste keer op hul ouer dag vir ‘n oogondersoek kom, en dan het hulle reeds permanente skade. Ek kan nie die belangrikheid van gereelde oogondersoeke oorbeklemtoon nie. Hoe word gloukoom gediagnoseer? ‘n Oogkundige wat sy/haar sout werd is, sal met ‘n oogtoets soek na tekens van gloukoom.
Die bekendste teken is verhoogte oogdruk, dus is die meting van oogdruk belangrik, maar beslis nie die belangrikste nie, omdat mens ook lae-druk gloukoom kry. Die belangrikste teken is verdunning van die oogsenuwee. As die senuweelaag dunner word, weet ons hier is moeilikheid, sê S,mit
Die mees gevorderde manier om verdunning van die senuwee te sien is deur middel van ‘n sonar van die oog. Dis baie moeilik om dit 2-dimensioneel met skatting te bepaal. Met OCT skandering (Optical Coherence Tomography) word die oogsenuwee se senuweediktelaag presies gemeet en word die dikte vergelyk met mense van dieselfde ouderdom, ras en geslag en sodoende skakel ons heelwat van die “raaiwerk” uit.
Die oog het een groot senuwee wat direk na die brein beweeg. Die oogsenuwee bestaan uit ongeveer ‘n miljoen senuweevesels (dink aan die onlangse optiese vesel internetkabel wat in Parys geïnstalleer is). Elke veseltjie is gekoppel aan ‘n reseptor op die retina, soos ‘n internetkoppeling aan ‘n huis.
By gloukoom kry die oogsenuwee onomkeerbare skade met die gevolg dat dit wat die oog sien, nie perfek aan die brein gekommunikeer kan word nie. Daar ontstaan dus blindekolle net soos wat daar buurte sonder internet gelaat word met kabelskade. Blindekolle Aanvanklik kan jou brein die blinde kolle ‘ignoreer’ en selfs nog later in die siekte ‘kompenseer’ die brein deur die blindekolle ‘in te vul’ met wat logies is. Byvoorbeeld wanneer die persoon bestuur en na ‘n pad kyk, vul die brein die blindekol met nog pad in, maar ongelukkig kon daar ‘n kar of ‘n kind in daardie blindekol area gewees het, en die persoon sien dit nie werklik nie, en maak dalk ‘n ongeluk.
Om te bepaal of ‘n persoon blindekolle het, kan ‘n veldtoets gedoen word. Die persoon kyk in ‘n masjien in met een oog op ‘n slag en dan is daar ‘n liggie wat flikker op verskillende plekke en die person druk ‘n knoppie wanneer hy/sy dit sien.
So word ‘n uitdruk gemaak van waar die persoon oral kan sien. ‘n Mens kan op grond van die blindekolle ongeskik verklaar word vir bestuur en sodoende jou lisensie verloor. Die goeie nuus is dat as gloukoom vroegtydig gediagnoseer word, dit behandel word met oogdruppels en soms laser en ander chirurgie.



