Local newsNews

Miljoene rand se voetgangerbrug staan steeds nie

Die stadige vordering met die projek word al vir lank bevraagteken, maar sonder antwoorde oor wat die situasie tans is met die voetgangersbrug vir Sandersville wat na meer as vier jaar nog nie staan nie.

Vrae word opnuut gevra oor die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se mislukte multimiljoen-projek waarmee ‘n voetgangerbrug by Sandersville in Heilbron gebou sou word, maar wat na meer as vier jaar steeds nie staan nie. Volgens die DA het die projek tot dusver al meer as R11m gekos. Die party sê dit het verlede week tydens ‘n raadsitting aan die lig gekom toe verskeie verslae oor huidige projekte binne die Ngwathe Munisipaliteit aan raadslede voorgehou is.

“Vir die afgelope 18 maande gebeur daar niks met die projek nie,” beweer DA-raadslid Robert Ferendale. Hy sê daar is in 2021 met die projek begin. “Jare later, en ten spyte van vele klagtes, het die munisipaliteit nog nie een enkele antwoord oor die sloerende projek gegee nie,” sê hy. Gazette kon teen druktyd ook nog nie terugvoer oor die projek van die munisipale bestuurder kry nie, maar sal terugvoer publiseer sodra dit ontvang word.
Ferendale sê mense is al oor die jare deur die stroom waar die brug gebou moet word, meegesleur wanneer hulle die stroom na Sandersville of die dorp wou oorsteek.

Na meer as vier jaar is die voetgangerbrug in Sandersville steeds nie voltooi nie.

“Ek het die vraag geopper oor waarom die kontrakteur betaal is, terwyl basies geen werk aan die projek gedoen is nie,” sê Ferenale. Volgens hom het die uitvoerende burgemeester aangedui dat daar tans ‘n ondersoek gedoen word na die projek.

Ferendale sê verder verskeie briewe is al aan die munisipaliteit gestuur om die stadige vordering van die projek te bevraagteken. “Dit kan nie so aangaan nie. Soveel geld word vermors vir niks. Die brug is noodsaaklik vir die gemeenskap aangesien inwoners nie tydens die reënseisoen van een gebied na ‘n ander kan beweeg nie,” sê hy.
Die projek is nou verleng om eers in 2027 voltooi te wees, maar wat kommer wek is dat slegs R4.5m oor is van die oorspronklike R16m wat begroot is, sê die DA.

Die gemeenskap van Sandersville wag al lank vir die voetgangerbrug wat veral in reënseisoen nodig is om tussen gebiede te kan beweeg

Die Provinsiale Tesourie het in die verlede al ‘n verstommende R68.5m se infrastruktuur projekgelde van die Ngwathe Munisipaliteit teruggeëis, maar is ‘n versoek van Ngwathe om die fondse na ‘n volgende boekjaar oor te dra, toe tog aanvaar.

Waar projekte weens billike redes nie deur ‘n kontrakteur binne die gegewe kontraktermyn voltooi kon word nie, kan aansoek gedoen word dat die projekgeld oorgedra word na ‘n volgende finansiële jaar.

Ngwathe het in daardie stadium met verskeie onvoltooide projekte gesit, grotendeels weens onbekwaamheid van kontrakteurs wat nie na wense presteer het nie. Onder die projekte was die Sandersville-voetgangerbrug.
Die DA het vandeesweek in sy verklaring gesê iemand moet verantwoordelik gehou word vir waarom die kontrakteur betaal is terwyl die werk nie gedoen is nie, en wil die party hê dat die Valke die projek ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button