Twee verdagtes is Saterdag in Tumahole in hegtenis geneem nadat inligting wat deur die polisie opgevolg is, hulle gelei het na ‘n sinkhuis in die Mbeki woondeel wat glo as onwettige skrootwerf bedryf is. Twee mans, vermoedelik buitelandse burgers tussen die ouderdomme van 29 en 32, is op die perseel gekry waar hulle koperkabels op ’n elektroniese skaal geweeg het.
Sersant Mahlomola Kareli, sê toe die verdagtes besef dat die polisie die perseel betree, het hulle probeer vlug, maar is vinnig deur die polisie vasgetrek. Twee elektroniese skale en ’n hoeveelheid koperkabels is gekonfiskeer.
Perd ernstig beseer
Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagtes van ’n perd-en-kar gebruik gemaak het om die kabels te vervoer. Die perd is ernstig beseer gekry, en is die DBV (Dierebeskermingsvereniging) onmiddellik in kennis gestel, sodat die perd die nodige veeartshulp kon kry.
Die twee verdagtes sal op klagte van vermoedelik gesteelde eiendom in die Parys-landdroshof verskyn.
Dwelmhandel
In ’n ander voorval het lede van Tumahole Misdaadvoorkoming tydens roetinepatrollies in Schonkenville ’n 34-jarige man Donderdag in hegtenis geneem vir vermoedelike besit en handel in dwelms nadat middels soos Khat en Crystalmeth in sy besit gevind is.