Local newsNews

‘Gawe oom’ beloof gratis vleis, steel toe lugtyd

Onlangse voorvalle herinner aan dieselfde modus operandi wat 'n glyjakkels in 2018 gebruik het.

‘n ‘Gawe oom’ met sy leë beloftes van vleisskenkings is besig om mense landwyd uit lugtydbewyse te kul. Die slenter wat ‘n paar jaar gelede die rondte gedoen het, en nou weer kop uitsteek, word vermoedelik uit ‘n tronk gedoen.

Die swendelaar het Maandag ook ‘n oord in die Parys-omgewing gebel met die belofte van ‘n halwe bees, ‘n skaap, en varkvleis wat hy wou skenk om ander te “help” want sy trok is kwansuis nou té swaar gelaai, en die trokke moet dringend ry.

In dieselfde asem is gevra dat net gehelp word met ses lugtydbewyse van R275 elk vir die vragmotorbestuurders.

Die ‘gawe oom’ het presies verduidelik waar sy slagoffer hom langs die pad moet ontmoet, en kon ook sê presies hoe ver hy van die oord af is. Nodeloos om te sê dat van die vleis was daar geen sprake nie, net ‘n verlies van R1 500 aan die lugtydkoopbewyse waarvan die kodes oor die foon vir die “oom” gestuur moes word.

Privaatondersoeker Ben Almero van Ben Almero Private Investigations het destyds gehelp om die skuldige in ‘n tronk op te spoor, berig Jana Boshoff van Caxton Network News.

Almero vermoed dat onlangse gevalle verbind kan word met dieselfde man wat in 2018 en 2019 mense ingedoen het omdat die storie waarmee hy slagoffers vang, soortgelyk is.

Belofte van gratis vleis lok slagoffers

‘n Inwoner van Potchefstroom (wie se identiteit weerhou word) het in Julie vertel dat hy ‘n oproep van iemand ontvang het wat die True Caller-toep as ‘n ene ‘Dr Hennie’ geïdentifiseer het. Dié man het verduidelik dat hy ‘n klomp vleis op die plaas het wat hy graag ‘vir iemand wil gee as sy tiende.’ Hy het aanwysings na ‘n plaas buite Potchefstroom gegee. Die inwoner het gery om die beloofde vleis te gaan haal met die doel om dit onder minderbevoorregtes uit te deel.

Net voor hy die dorp uit is het ‘Dr Hennie’ hom gebel en gevra of hy nie vir hom swartsakke en Disprins kan saambring nie. Hy het met hom gesels terwyl hy die goed koop, en toe gevra of hy nie sommer vir hom lugtyd vir sy trokbestuurders wil saambring ‘terwyl hy by die til is’ nie.
‘Dr. Hennie’ het die slagoffer oortuig om van die lugtydkodes vir hom oor die foon te lees en toe glo verdwyn.

Die aanwysings wat ‘Dr Hennie’ aan hom gegee het waar hy die vleis moes oplaai, het nie bestaan nie en hy het hom langs die pad in niemandsland bevind.
‘n Man van Bela-Bela is op ‘n soortgelyke manier geteiken, maar het gelukkig lont geruik voor hy omgepraat is om die lugtydbewyse se kodes oor die foon te gee. Nie een van die gevalle is by die polisie aangemeld nie.

Voorvalle herinner aan vorige slenters

In 2018 was daar talle slagoffers van ‘n soortgelyke slenter in Middelburg en Bethal aangemeld. Die storie is byna woord-vir-woord dieselfde buiten dat die bedrieër hom destyds as ‘Dr Jan Botha’ voorgestel het.

Almero het destyds dié verdagte nagespoor tot in die tronk in Bethal waar hy besig was om ‘n lewenslange vonnis uit te dien. Die gevangene is na die tronk in Secunda geskuif waar hy sy skelmstreke voortgesit het tot hy in isolasie geplaas is.

Almero is oortuig dat dit of dieselfde man is, of iemand wat sy modus operandi oorgeneem het.

Almero het in Julie aan Boshoff gesê dat hy tred verloor het met waar die vorige glyjakkals hom tans bevind sedert hy na isolasie in die Secunda-gevangenis geskuif is en die slenters opgedroog het.

Rica het die mag om kubermisdaad te knou

Rica, wat staan vir die Engelse term Regulation of Interception of Communications and Provision of Communication-Related Information Act (70 van 2002) bepaal dat elke simkaart in Suid Afrika aan ‘n spesifieke gebruiker met ‘n identiteitsnommer en fisiese adres gekoppel moet word. Iets wat Almero meen baie sou help in die geveg teen kubermisdaad, indien die wet afgedwing sou word.

Die realiteit is egter dat simkaarte wat nie geregistreer is nie om elke hoek en draai beskikbaar is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button