Wonderheuwel Boerevereniging vier sukses en samewerking
Die unieke speenkalf voerkompetisie was vanjaar 'n eerste vir dié Boerevereniging.
VREDEFORT – Die Wonderheuwel Boerevereniging (WBV) het Vrydagaand hul jaarlikse dinee in styl gevier by Phirimane. Die aand het nie net hulde gebring aan die harde werk van boere nie, maar ook die hegte gemeenskapsgees van die Vredefortstreek bevestig.
Voorsitter Petri Mocke het die gaste hartlik verwelkom en die belangrikheid van samewerking, ondersteuning en bemagtiging onder plaaslike boere beklemtoon. Die WBV, wat in 1978 gestig is met Kobie Badenhorst as eerste lid, het nou reeds 70 lede – almal boere en trotse Vredeforters. Die vereniging is ook geaffilieer by Vrystaat Landbou en fokus op die ondersteuning van bees- en graanboere van uitmuntende gehalte.
‘n Unieke prestasie: Speenkalf Voerkompetisie
Vanjaar het die WBV geskiedenis gemaak met hul eerste speenkalf voerkompetisie, wat in Mei afgeskop het. Boere, lede en nie-lede, het speenkalwers geskenk wat deur gevoer is onder streng kriteria: groei, uitslagpersentasie, vleiskwaliteit en onafhanklike karkasbeoordeling.
Die inkomste uit die projek gaan terug na die vereniging en ondersteun hul deurlopende werk in die gemeenskap – van finansiële bystand aan behoeftige
gesinne en voedselskemas in Vredefort tot bemagtiging van hul lede.
Die kompetisie het nie net vir gesonde mededinging gesorg nie, maar het die boere ook opnuut laat trots voel op hul beroep.
Boere kon selfs op die uitslag van die kompetisie bie, met Andries D’Alebout wat die veiling met humor en flair aangebied het.
Prestasiehoogtepunte van die aand:
• Beste karkas (6mm vet): Wimpie Louw
• Onafhanklik beoordeelde karkas op hoef: Keith Ward
• Beste GDT (2.15 regdeur): Johan Dannhauser
Top 5 Kalwers in die Kompetisie:
1. Johan Dannhauser – Droughtmaster “Vlekkie” (Johan het sy wengeld teruggeskenk aan die WBV wat dit weer in die gemeenskap sal terugploeg)
2. Carl Rautenbach – Simbra “Champion”
3. Heine Brüssow – Brangus “Richann”
4. Keith Ward – Bonsmara “Wollie”
5. George Potgieter – Santa “Sunsex”

Wenbieërs
• (1ste en 2de plek) Vicky van der Westhuizen
• (3de plek) Armand Marx

Borge maak ‘n groot verskil
Die sukses van die kompetisie en dinee sou nie moontlik wees sonder ruimhartige borge nie:
- Zoëtis – Entstowwe en prestasiemonitering
- Virbac (Willem van der Merwe) – Groeifaktor en beesskenkings
- Bendré Heroldt van Molatek – Voerkraalkonsentraat en onafhanklikheid van beoordeling
- Stephan Cronjé van Molatek – ‘n bottel wyn vir die geleentheid
- Shani Ward vir die skenk van ‘n lam, die administrasie en organisasie
- Elize Bornman van Phirimane vir haar gasvryheid
Die komitee
Die WBV-komiteelede is Petri Mocke, Francois Marx, Wollie Cronjé, Pieter Marx, Andries D’Alebout, Armand Marx, George Potgieter Senior, Shani
Ward, Johan Wessels, Salmon Rautenbach, Du Plooy Mocke, Gideon Coetzee, Dawie Marx en Henning Roets. Hulle verdien besondere erkenning vir hul kreatiwiteit en onbaatsugtige diens. Hierdie span werk uit liefde vir die saak en maak ‘n tasbare verskil in die lewens van boere én hul gemeenskappe.
Slotgedagte
Die WBV het weereens bewys dat wanneer ‘n gemeenskap saamstaan, wonderlike dinge gebeur. Tussen kwinkslae, vleisbeoordeling en hartlike saamkuier het die aand nie net boerdery gevier nie, maar ook die menslikheid en hoop wat in elke landbouhartsentrum leef.



