Local newsNews

Van ouderlingspilletjies tot Smarties versier dié soettand mark-lekkerte

Die kleurvolle eetbare huisies en vele ander handwerk en lekkernye sal Saterdag deur die bejaardes van Sally Martin Park by hul Kersmark te koop aangebied word.

Soos ‘n Hansie en Grietjie lei kleurvolle lekkergoedtuine met van ouderlingspilletjies tot malvalekkers, jou soettnad reguit na kunstige Lebküchen (gemmerbrood) huisies op ‘n ry. Sommige toegevou onder ‘n sneeukombers. Ander met ‘n lowergroen grasperk.

Daar is wortels in ‘n groentetuin en ‘n netjiese rotstuin. Selfs dakteëls gemaak van versuikerde lekkers tussen versiersuikerstrepe wat met ‘n bietjie verbeelding jou aan sonpanele herinner. Van die skoorsteen tot die heining – alles eetbaar.

Dit is die handewerk van Elma Voorendyk van Sally Martin Park, en haar Krugersdorpse hartsvriendin, Martina.

Vier dae het die twee gebou aan die huisies wat Saterdag onder die spog handwerk van bejaardes sal wees vir Sally Martin Park se jaarlikse Kersmark.

Vir dié huisies sal jy gou moet spring, want daar is net 10 – elkeen anders en ‘n meesterstuk. “Tipiese Europese huisies wat jy in hul winter Kersfees sal sien,” vertel Elma.

Huisbou-tyd is kuiertyd

Huisbou-tyd is kuiertyd, sê Elma oor die huisbouery. Martina is die baasbakster wat die huise se panele maak. Elma gee met haar kreatiewe hand elke huisie sy eie identiteit. Vanjaar het Martina ook kom hand bysit met die aanmekaar plak en versier.

“Aan die begin het Google idees vir versier uitgedink, maar nou kom die idees sommer vanself uit my kop,” gesels Elma.

Toe hulle verlede jaar begin het met die huisies was dit ‘n wegholwenner by die Kersmark. Nie een het oorgebly nie.

Die pienk versierde huisies het dadelik die dogtertjies se oog gevang, en daarom is daar weer vanjaar aan dié verwagting voldoen. Daar was selfs ‘n man wat ‘n gemmerbroodhuisie vir sy kantoor gekoop het, onthou Elma.

Hoewel daar meer huisies te koop sal wees as verlede jaar, sal jy nie een kry wat lyk soos die huisies wat verlede jaar verkoop is nie.

Vir van die huisies met vensters, gemaak van harde suiglekkers wat gebreek en toe gebak is in die vorm van die vensters, kan jy selfs liggies insit.

Eintlik is ons al twee Jacks of all trades, gesels Elma. Sy hou van hekel, brei en mosaïek. Martina is ewe vaardig met die naald en doen kruisssteek- en hekelwerk so tussendeur haar liefde vir bak.

“Maar ek is die een met die soettand,” erken Elma. Té veel van die lekkergoed beland in my maag. “Vir die volgende twee weke is dit net water, appels en kaas vir my,” terg dié oud grondslagfase juffrou. Vir die huisies word ‘n basiese huisvorm gebruik, maar die kleurvolste en sagste lekkers maak die mooiste huisies, verklap sy.

gemmerbroodhuisie
Soet lekkerte en ‘n kunswerk in eie reg.

Die bou-gier kom al ‘n lang pad. Elma het haar Duitse vriendin op die aanlyn speletjie Township ontmoet waaraan mense oor die wêreld in spanne bou aan ‘n plaas of dorpie. Jy praat met spanlede aanlyn, en so het Elma en Martina se paaie gekruis en het hulle dadelik geclick.

Hulle sien mekaar een of twee keer ‘n maand en dan vaar hulle die strate in en maak ‘n draai by al wat kunswinkel is. “My vriende doen Parys se ekonomie goed, want almal wat hier kom is charmed met die dorpie en koop graag,” sê Elma. Syself het jare in Johannesburg gewoon.
Haar ouers het in die 1980’s in Parys gebly en het haar lewenspad haar ook later na Parys gelei, waar Sally Martin Park haar tuiste geword het.

Kersmark

Maak vroeg Saterdag jou huis se deure toe, en maak ‘n draai by Sally Martin Park se Kersmark waar lekkernye en handwerk gemaak deur dié talentvolle bejaardes jou kerskous sal volmaak. En as jy té laat slaap om ‘n huisie te koop, kan bestellings vir ‘n minimum van twee geplaas word.

Die Kersmark is van 09:00 tot 13:00 in die eetsaal by die hoofgebou van Sally Martin. Bring genoeg kontant – die opbrengs gaan na die bejaardes wat deelneem aan die Kersmark.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button