Local newsNews

Mini-ruilplan laat hondesterte swaai

Vanjaar se reaksie op die mini-ruilprojek was oorweldigend en het Liezel Hagar se foon onophoudelik boodskappe gekry van mense wat mini's wou ruil.

Van hulle is met Pudo van Parys na Nylstroom gestuur. Ander het ‘n saamry-geleentheid tot in Bloemfontein gekry. Al is hulle net ‘n paar sentimeter groot het die mini-koors vir weke van kinders tot oupas en oumas aan die koop, ruil en smous gekry.

En die vreugde om ‘n mini-pakkie te pop nog voor die kruideniers in die motor gelaai is, het nie ‘n ouderdomsperk nie

Maar dit was die Oros-mannetjie en die 60/60 motorfietsie wat vanjaar beslis van die gewildstes was, gesels Liezel Hagar wat soos verlede jaar met die mini’s honde- en katkos ingesamel het vir diere in nood.

Anders as in baie ander huise, is die mini’s nie ‘n groot craze in die Hager-huishouding nie, vertel Liezel. Met die vorige reeks het daar seker 40 van hulle in ‘n bak in haar kombuis gelê, en het Liezel op Facebook raakgelees dat iemand in Jeffreysbaai die mini’s gebruik om hondekos bymekaar te maak.

Dit is toe dat sy besef het dat sy met die mini’s plaaslik ‘n verskil vir diere in nood kan maak. In 2024 het sy 308kg se kos binne drie dae ingesamel wat aan die plaaslike DBV geskenk is. Dit het sy reggekry deur elke mini wat sy gehad of geskenk gekry het, te ruil by mense vir ‘n kilogram se honde- of katkos.

Vanjaar het die mini-koors alle verwagtinge oortref en het Liezel met die mini-ruil inisiatief binne twee weke in totaal 1 050kg se kos kon insamel wat organisasies sal help wat omsien na die nood van diere.

Selfs met die kontant wat sy ingesamel het met ‘n volledige Checkers Little Shop-versameling, geskenk deur Nerine Vermaak, en ‘n waterfontein wat sy aanlyn op Facebook opgeveil het en wat ook vir haar geskenk is, het sy honde- en katkos vir die projek gekoop. Vir die volledige Little Shop-versameling is die bod op R700 toegeslaan, en op R1 500 vir die waterfontein – ‘n stewige hupstoot in kilogram vir die projek.

Aanvanklik was haar mikpunt om 500kg se kos te kon insamel, vertel Liezel. Maar met 900 van die mini’s wat sy bymekaar gemaak en geruil het, het vanjaar se projek alle verwagtinge oortref.

Dag en nag was haar foon aan die piep vir mense wat mini’s by haar wou hê, vertel Liezel.
Daar was ‘n veearts in Gauteng wat 100 mini’s wou hê in ruil vir 100kg se honde- en katkos. Iemand uit Alberton wat 60/60 gestuur het met die hondekos en toe die mini met ‘n geleentheid laat haal het.

Interessante oomblikke het sy ook baie van gehad met sommige wat eers wou seker maak of die projek nie ‘n skelmstreek was nie, of benoud was dat sy die kos of mini’s sou hou. Maar met Liezel se passie vir diere, was dit gou duidelik dat die projek om ‘n verskil vir die diere te maak haar na aan die hart lê.

Daarom het sy ook nie twee keer gedink om soos in 2024 die mini-projek aan te pak toe sy 89 mini’s gehad het om te kon begin ruil nie. Soggens net na 07:00 het die eerste boodskappe al begin inkom van versamelaars, en teen 23:00 saans was daar steeds mense wat soek na ‘n mini.

Liezel Hagar met die 1 050kg se honde- en katkos wat sy met haar mini-projek ingesamel het vir organisasies wat omsien na diere in nood.
Liezel Hagar met die 1 050kg se honde- en katkos wat sy met haar mini-projek ingesamel het vir organisasies wat omsien na diere in nood.

Maar al was die versamelkoors soos verlede jaar groot, het niks die waansin vir die pienk mini-trollie van verlede jaar oortref nie. Verlede jaar het sy met die einste pienk trollie wat sy aanlyn opgeveil het, haar projek ‘n goeie hupstoot gegee.

Die nuutste Checkers Little Shop-reeks het 46 gewilde mini-replikas van bekende handelsname ingesluit, en dié keer was daar boonop die skuif met drie bordspeletjies wat in die versamelaarsboks ingesluit is, en waarvoor die mini’s as speelstukke gebruik word.

Checkers Little Shop mini
Een van die items in die nuutste Checkers Little Shop mini-versameling.

As jy nog ‘n mini kort vir jou versameling, gesels met Liezel by 082 568 2421.

Dankie aan elkeen wat mini’s of kos geskenk het, en sonder wie die projek nie moontlik sou wees nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button