Diabetes en gehoorverlies
Gereelde gehoortoetse is nodig vir diabete omdat die risiko van gehoorverlies dikwels oor die hoof gesien word.
Diabetes is ‘n al groter wordende openbare gesondheidsuitdaging in Suid-Afrika, met ’n geraamde 2.3 miljoen volwassenes wat met die toestand leef. Ten spyte van die groeiende getalle bly baie mense ongediagnoseer, of word die toestand swak bestuur by sommige pasiënte wat hulle blootstel aan diabetesverwante komplikasies wat verder strek as bekende risikos soos sigverlies.
Een van die minder bekende maar betekenisvolle komplikasies is gehoorverlies. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beklemtoon dat diabetes skade kan veroorsaak aan die delikate bloedvate en senuwees binne die oor, wat lei tot sensoriese-neurale gehoorverlies.
Dit beteken daar is skade aan die binneoor of die senuwee wat klankseine na die brein stuur, wat dit moeilik maak om behoorlik te hoor.
Hierdie toenemende verswakking word dikwels nie in die vroeë stadiums opgemerk nie, maar kan kommunikasie, sosiale betrokkenheid en lewensgehalte ernstig beïnvloed.
Volgens Bronwyn van Wyk, Hoof van Oudiologie by Spec-Savers Suid-Afrika, is “gehoorverlies wat met diabetes verband hou ’n ernstige maar onderskatte komplikasie. Baie pasiënte besef nie dat hul diabetes hul gehoor in gevaar stel nie. Oudiologiese siftings behoort deel te wees van roetine-diabetesorg om vroeë ingryping en bestuur te verseker.”
Hoewel grootskaalse plaaslike navorsing beperk is, dui kliniese ervaring in Suid-Afrika daarop dat die voorkoms van gehoorverlies onder mense wat met diabetes leef beduidend is. Kenners skat dat byna die helfte van diabete een of ander vorm van gehoorgestremdheid kan ervaar gedurende die verloop van hul siekte.
Suid-Afrikaners wat met diabetes leef, word aangemoedig om gereelde gehoortoetse, benewens oogondersoeke en bloedsuikertoetse, ‘n prioriteit te maak. Deur diabetes te beheer en oor-gesondheid te beskerm, kan die erns en vordering van gehoorverlies verminder word.
Goeie praktyke soos die bestuur van bloedsuikervlakke, om blootstelling aan harde geraas te voorkom, en vroeë diagnose deur gehoortoetse kan ’n betekenisvolle verskil aan lewenskwaliteit maak.



