Tien sterf in busongeluk
Motoriste is ernstig gewaarsku oor toestande op paaie met nog swaar reën en donderstorms wat tot minstens Maandag voorspel word.
Motoriste is ernstig gewaarsku oor nat padtoestande wat tot minstens Maandag in groot dele van Noordwes, die Vrystaat, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu Natal kan voortduur ná ‘n noodlottige botsing op die N8 vanoggend waarin tien mense gesterf en talle beseer is.
Die ongeluk tussen ‘n bus en ‘n vragmotor het om 06:35 net buite Bloemfontein gebeur, het Sipho Towa, voorsitter van die Roud Incident Management System (RIMS) bevestig.
Die beseerdes is na die Busamed, Pelenomi en Botshabelo hospitale vervoer.
Die Manguang Metro het Vrydag reeds gewaarsku dat motoriste bedag moet wees op nat paaie te midde van swaar reën.
R59 slaggate
Motoriste word ook gewaarsku teen groot en diep slaggate op die R59 voor Sasolburg rigting Parys, asook tussen die N1 oorbrug en Parys, tussen Parys en Vredefort, en duskant Vredefort in die rigting van Kroonstad.
Bestuur uiters versigtig, verminder spoed en handhaaf veilige volgafstande.



