Mev. SA pronk in Tienie Boshoff-skepping
Boshoff het naas Verushka Singh se uitrusting onder meer ook die rokke van vier ander finaliste, twee van vanjaar se beoordelaars en die rok van die voormalige Mev. SA ontwerp vir die glansaand.
Geklee in ‘n uitsonderlike blou uitrusting van ontwerper Tienie Boshoff, het Verushka Singh, Vrydagaand behoorlik gepronk toe sy gekroon is as die nuwe Mev. Suid-Afrika by Emperors Palace se Theatre of Marcellus.
Boshoff wat die afgelope 11 jaar in Parys gevestig is, het naas die rok wat hy vir Singh ontwerp het, ook die rokke van die finaliste Wilmarie Kriel, Yvette Muller, Zaza Letsholo en Wendy van Zyl ontwerp, asook die rok van die voormalige Mev. SA, Erin Jane Miller, en die rokke van Jacqueline Ferns en Matapa Maila, twee van vanjaar se beoordelaars, sowel as die rok van Jo Judnick-Wilson (Mev. SA 2022).
Boshoff vertel dat dit ‘n groot voorreg was om vanjaar weer saam met die Mev. Suid-Afrika organisasie deel te kon wees van die glansaand.
“Oor die jare het die skoonhede vriende geword en nie net kliënte vir wie ek ontwerpe moes doen nie,” vertel hy.
Die tema van vanjaar se kroningsaand was, “The Greatest Show Woman” geïnspireer deur The Greatest Showman, met die boodskap dat moed en individualiteit gevier moet word.
Daar is vanjaar gefokus op die kleure blou en pers. “Dit het my dadelik aan ‘n pou laat dink,” vertel Boshoff. Die besondere kleurskakerings en detail van sy ontwerpe het die oog gevang, maar was dit suiwer geluk dat die wenner juis die rok gedra het met die pragtige pouveer-detail wat my inspirasie was, en adelikheid, skoonheid en grasie versinnebeeld, vertel Boshoff.


Singh, ‘n chemiese ingenieur en klimaatsverandering-strateeg van Johannesburg, is die eerste Indiër-Suid-Afrikaanse vrou wat die Mev. SA-kroon dra. Carika Bebb is as eerste prinses gekroon, en Talitha Oosthuizen as tweede prinses. Agt-en-twintig vroue van regoor die land was onder vanjaar se finaliste wat uitgestaan het, van entrepreneurs en regspraktisyns, tot moeders en gemeenskapsleiers.
“Ek sien uit na die jaar en die geleenthede wat dit inhou,” het Singh gesê.
Sy wil haar onder meer in haar kroningsjaar daarop toespits om meer bewustheid oor klimaatsverandering te help skep.
Sy sal ook Suid-Afrika by die Mrs World-kroning verteenwoordig.

Hoofbeoordelaar Matapa Maila, het in haar boodskap opgemerk dat die kroningsaand nie net skoonheid vier nie, maar ook moed—die durf om op te staan en te herdefinieer wat dit beteken om ‘n vrou van impak in Suid-Afrika te wees. “Hierdie aand is ‘n huldeblyk aan die krag om te volhard – selfs in tye van onsekerheid.”
Van die ontwerpers wat deel was van die glansaand het ingesluit Von Ami Couture, Gerrit Pienaar, Tienie Boshoff, Dollhouse en New Romantics.



