Twee sterf in noodlottige botsing op R57
Daar is weer 'n beroep op mense gedoen om versigtig te bestuur en gereeld te rus wanneer jy oor die Feestyd op die pad gaan.
Nooddienswerkers is tans nog op die toneel waar ‘n noodlottige botsing vroeër vanaand die lewens van twee mense op die R57 tussen Heilbron en Sasolburg ge-eis het.
Volgens Sipho Towa, voorsitter van die Road Incident Management System (RIMS) in die Vrystaat, moes die pad gesluit word na die botsing waarby verskeie voertuie betrokke was.
Benewens die twee sterftes is nog twee insittendes van die voertuie betrokke in die botsing per ambulans van die toneel vervoer.
Towa het ‘n beroep op motoriste gedoen om eerder alternatiewe roetes te volg totdat die pad weer oopgestel kan word vir verkeer.
Die pad sal oopgestel word sodra opruimingswerk van die toneel voltooi is.
Mense is met die oog op die feestyd wanneer verkeersvolumes op paaie toeneem, gewaarsku om
- spoed te verminder veral op besige paaie soos die R57
- versigtig te bestuur
- seker te maak dat jou aandag gefokus bly op die pad.
- gereeld te wanneer jy lank op die pad gaan wees.
- sitplekgordels te dra en seker te maak dat alle passasiers in ‘n voertuig ook vasgegordel is.
- geduldig te wees op die land se paaie en nie roekelose aksies uit te voer om ander voertuie verby te gaan nie.



