Local newsNews

My stryd met MS: Wanneer uitdagings ‘n getuienis word

'n Positiewe uitkyk laat hom die lewe vierkant in die oë kyk ten spyte van elke uitdaging wat oor sy pad kom.

Vir die 45-jarige Martyn van den Berg is daar niks so belangrik as om positief te bly, selfs al moes hy ‘n belowende loopbaan as arbeidsverhoudingspesialis prysgee toe MS (veelvuldige sklerose) op ‘n jong ouderdom by hom gediagnoseer is.

Danksy sy ingesteldheid, die regte medikasie en oefening met die hulp van biokinetikus Hendrik Scheepers, kon Martyn aan die einde van 2025 vir die eerste keer ‘n paar meter sonder krukke loop. ‘n Getuienis van geloof, deursettingsvermoë, maar bo alles – die wil om elke uitdaging wat oor sy pad kom, vierkantig in die oë te kyk.

Martyn saam met sy biokinetikus Hendrik Scheepers, wat vir hom 'n pasgemaakte oefenprogram uitgewerk het. Die foto is geneem toe Martyn einde 2025 die eerste keer in jare 'n paar meter sonder krukke kon loop danksy Hendrik se hulp.
Martyn saam met sy biokinetikus Hendrik Scheepers, wat vir hom ‘n pasgemaakte oefenprogram uitgewerk het. Die foto is geneem toe Martyn einde 2025 die eerste keer ‘n paar meter sonder krukke kon loop danksy Hendrik se hulp.

Diagnose

Martyn is 17 jaar gelede met MS gediagnoseer deur ‘n dokter in Johannesburg, maar voor die diagnose het simptome van die siekte al kop uitgesteek. Dit het begin met my linkerkuit wat warm gevoel het, maar as ek daarin sou vat het dit koud gevoel, onthou hy. Dit het vir maande aangehou en het sy huisdokter aanvanklik senuskade vermoed, en hom aangeraai om ‘n tweede opinie te kry.

In Oktober 2008 het die boorling van Vanderbijlpark ‘n pos by Tiger Brands in Houghton, Johannesburg aanvaar – ‘n nuwe uitdaging vir hom wat kort daarna in Maart 2009 verpletter is met die skokdiagnose van MS wat deur ‘n MRI-skandering en ander toetse bevestig is.

Sy werkgewer het hom geweldig ondersteun, vertel Martyn, en kon hy tot 2019 nog daagliks van sy huis in Vanderbijlpark na Johannesburg pendel. Sy werksomstandighede het egter ook van hom vereis dat hy baie na onder meer Durban, Kaapstad en Port Elizabeth moes reis. Hoewel Martyn op daardie stadium nog kon bestuur, was vlieg en die beweeg op lughawens ‘n moeilike en vermoeiende uitdaging.

Die gevolg was dat hy in 2019 medies ongeskik verklaar is.

In 2021 verhuis hy van Vanderbijlpark na Parys waar sy ouers gevestig is, en trek hy by hulle in wie ook sy troue ondersteuningsnetwerk is.

Terugslae

Martyn se pad met MS het met sy aanvanklike diagnose gelei tot erge terugslae tot vier keer per jaar wat met hoë dosisse chortisoon behandel moes word. Met elke terugslag is daar skade vir MS-lyers – meestal permanent, verduidelik Martyn.

Regte medikasie, gereelde oefening

Danksy medikasie en gereelde oefening wat voorkom dat sy spiere styf word, is die siekte hanteerbaar, sê Martyn, en is hy die afgelope vyf jaar stabiel sonder dat daar weer terugslae was.

Maar dit is nie net MS wat Martyn se lewenspad in ‘n ander rigting gestuur het nie.
Hy het sy lewe lank ernstige rugprobleme en moes die afgelope ses jaar drie rugoperasies ondergaan. In’n stadium kon hy nie loop nie as gevolg van ‘n werwel wat heeltemal uit die werwelkolom geskuif het en was hy aan ‘n rolstoel gekluister.

Die laaste nege jaar is hy op krukke, maar danksy die afgelope sowat vier jaar se konstante oefening gemiddeld drie keer per week met ‘n pasgemaakte oefenprogram, leef Martyn ‘n lewe van dankbaarheid.

Na baie jare is dit vir hom weer moontlik om met hulp saam met sy broer te gaan jag – een van sy groot passies.

‘n Positiewe ingesteldheid

Hy glo dat elke dag bo die grond ‘n goeie dag is. ‘n Lewensuitkyk wat hy ook met ander MS-lyers deel, want om positief te bly is wat Martyn staande hou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button