Local newsNews

AfriForum eis antwoorde oor Viljoenskroon en Ramulotsi waterkrisis

Die burgerregte organisasie het weer gewys op mense se grondwetlike reg op water.

AfriForum het Woensdag ’n dringende skrywe aan die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin duidelikheid gevra word oor die erge watertekorte waaronder inwoners van dié munisipaliteit die afgelope paar dae gebuk gegaan het.

Vrae word onder meer gevra oor die hernuwing van die kontrak van die kontrakeur wat verantwoordelik is vir die waterwerke.

By die Ango Maseola-gesondheidskliniek in die Marikana-woongebied van Rammulotsi, het die watertekort ‘n groot krisis veroorsaak.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is dit onaanvaarbaar dat inwoners sonder ’n basiese diens soos water gelaat word. Hierdie situasie dui op ’n ernstige agteruitgang in die munisipaliteit se vermoë om sy grondwetlike pligte na te kom,” het sy gesê.

Die Moqhaka-munisipaliteit het Maandag onvoorwaardelik verskoning gevra vir die gebrek aan watervoorsiening oor die naweek aan inwoners van Viljoenskroon en Rammulotsi, en sy onvermoë om die publiek op hoogte te hou met kennisgewings rakende die watertekorte.

Die munisipaliteit sê in sy verklaring die naweek se tekorte was weens ‘n waterpyp wat deur ‘n kontrakteur beskadig is, sonder dat die munisipaliteit in kennis gestel is. Die herstel van watertoevoer is ook vertraag weens tegniese en operasionele probleme, maar sou daar weer van Dinsdag af water in die waterverspreidingsnetwerk wees, is gesê, hoewel waterdruk Woensdag steeds swak was in spesifiek die Marikana-woongebied waar die kliniek geleë is.

In 2022 het AfriForum die Moqhaka Munisipaliteit op terme geplaas oor rioolbesoedeling nadat riool deur huise geloop het en ook ‘n enorme uitdaging by die Ango Maseola-kliniek veroorsaak het.

AfriForum het die munisipaliteit nou versoek om dringend duidelikheid te gee oor talle kwessies rondom watervoorsiening wat in die skrywe uitgelig is.

Die burgerregte organisasie sê ingevolge artikel 27 van die Grondwet het elke persoon die reg op toegang tot voldoende water, terwyl munisipaliteite ingevolge artikel 152 verplig is om basiese dienste op ’n volhoubare wyse te lewer. AfriForum het die munisipaliteit 48 uur gegee om op die skrywe te reageer en waarsku dat verdere stappe oorweeg sal word indien geen bevredigende terugvoer ontvang word nie.

“Inwoners sukkel regtig baie, veral mense met klein kinders en kinders wat moet skool toe gaan. Die gemeenskap stel hulle boorgate beskikbaar en inwoners ry water met tenks aan, maar veral die mense in Rammulotsi moet baie ver loop met emmers om te gaan water haal, soms selfs in Viljoenskroon.  Gemeenskappe kan nie langer die gevolge van wanbestuur dra nie. AfriForum sal voortgaan om druk toe te pas totdat verantwoordbaarheid en dienslewering herstel word,” sê Attie Barnard, AfriForum se takvoorsitter van Viljoenskroon.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button