Hoekom KI nie ons geskiedenis kan vertel nie
'Dit is gevaarlik om te dink dat dít wat digitaal beskikbaar is, die volle verhaal is'
Hoewel kunsmatige intelligensie (KI) die gonswoord van ons tyd is en op elke denkbare terrein ingespan word – van akademiese navorsing tot kuns, kommunikasie en musiek – sal KI nie in die volgende geslag of twee die skoene van die historikus kan vol staan nie.
Só meen doktor Pierre Edwards, historikus en navorser, wat op 12 Maart die gasspreker by die Erfenisstigting (ES) se 17de Moerdyk-gedenklesing in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument was.
Edwards het die tema “Die onsigbare argief: Hoekom kunsmatige intelligensie nie ons geskiedenis heeltemal kan vertel nie – ’n besinning oor gedigitaliseerde bronne en die onmisbare rol van die historikus” krities onder die loep geneem en die moontlikhede en beperkings van KI in die verstaan en vertolking van die verlede verken.
Hoewel KI patrone kan identifiseer en groot hoeveelhede data blitsvinnig kan verwerk, bly die interpretasie van historiese bronne ’n menslike proses wat konteks, empatie en kritiese oordeel vereis. Dit is gevaarlik om te dink dat dít wat digitaal beskikbaar is, die volle verhaal is, het Edwards gesê.
“KI sal altyd ’n antwoord hê, maar of dié antwoord betroubaar is, is te betwyfel, veral in die konteks van historiese feite en gebeure. Dit is vanweë die feit dat slegs ’n deel van die geskiedenis al gedigitaliseer is. Kritieke bronne soos persoonlike briewe, foto’s, familie-argiewe, mondelinge oorlewerings en plaaslike versamelings leef steeds buite die digitale wêreld.”
Volgens hom is dié bronne ’n onsigbare argief wat geen algoritme kan naspeur nie.
“Die vraag is: Het KI toegang tot voldoende digitale bronne om die geskiedenis volledig te vertolk? En selfs al het dit toegang, kan tegnologie sonder menslike vertolking ’n bron werklik verstaan?”
Hierin lê die unieke rol van die historikus, meen hy. “’n Dokument is nooit net ’n stel woorde nie. Dit dra emosie, omstandighede en menslike ervaring. Om ’n bron te verstaan, vereis dat ons vra waarom dit geskryf is, wie dit geskryf het en wat moontlik ongesê gebly het. Hierdie dimensie kan nie deur ’n masjien verreken word nie.”
Edwards het sy argument onder meer aan die hand van navorsing oor die Kruger-miljoene toegelig en drastiese verskille uitgewys tussen oorspronklike foto’s en dokumente, en die interpretasie deur KI-stelsels. Nie net slaan dié bronne hardnekkige gerugte oor dié geld en goud wat gereeld opduik die nek in nie, maar Edwards het telkens die KI-antwoorde met feite uit historiese bronne weerlê.
Volgens Lizette Jansen, bestuurder van die ES, bied KI moontlikhede vir navorsing en digitalisering, maar dit moet met omsigtigheid in samewerking met historici, argivarisse en erfenisinstellings gebruik word. “Sonder menslike kundigheid loop ons die risiko dat belangrike dele van ons geskiedenis verlore gaan of verkeerd geïnterpreteer word,” sê sy.
Volgens haar het Edwards hernieude klem op die belangrikheid van bewaring en digitalisering van bronne gelê. “Daar is ’n skatkis van historiese materiaal – insluitend dokumente, foto’s en artefakte – wat in privaat versamelings of klein plaaslike argiewe is en nog nie gedigitaliseer is nie. Hierdie bronne vorm ’n onmisbare deel van die breër geskiedkundige narratief.
“Daarom doen ons ’n beroep op gemeenskappe om met instellings soos die ES hande te vat om te verseker dat ons geskiedenis vir volgende geslagte behoue bly.”

Volgens Jansen word ongedigitaliseerde bronne deur verskeie faktore bedreig, insluitend diefstal, en die gebrekkige instandhouding en verval van argiefbewaarplekke reg oor Suid-Afrika. “Argiewe het dikwels ook met kapasiteituitdagings te kampe. Daar is ’n magdom historiese inligting wat nog ’n
veilige wolkbewaarplek moet kry, maar daar is net eenvoudig te min hande.”
Edwards beaam dit en sê KI kan help om vinniger deur ’n digitale argief te blaai, maar dit is die historikus wat betekenis aan ’n verhaal gee. “Terwyl groot dele van die geskiedenis nog buite die kuberruim leef, kan KI-inligting nooit as 100% betroubaar of gesaghebbend gereken word nie.”



