Local newsNews

Wat jy moet weet wanneer jy ’n voertuig in Suid-Afrika koop of verkoop

Dit is belangrik dat jy bykomende fooie en deurlopende uitgawes in ag sal neem om onaangename verrassings te vermy.

Jongste statistieke van die National Association of Automobile Manufacturers of South Africa (Naamsa) toon dat die plaaslike nuwe motormark sy beste Februarie in meer as ’n dekade beleef het, met byna 53 500 voertuie wat in Februarie verkoop is.

Aangevuur deur laer inflasie en beter plaaslike ekonomiese toestande, betree baie Suid-Afrikaners die mark – hetsy om ’n nuwe voertuig te koop, of hul huidige een in te ruil. Dit is egter nie ’n besluit wat ligtelik geneem moet word nie.

“Om ’n voertuig te koop of te verkoop is ’n beduidende finansiële besluit,” waarsku Santam se Marius Kemp. “Om die volle prentjie te verstaan – van lopende koste tot versekeringsoorwegings – vorm alles deel van ’n slim, ingeligte besluit, ” sê hy.

Die werklike koste van motorbesit

Dit is maklik om te vergeet dat jou maandelikse paaiement slegs ongeveer 50% van die koste van motorbesit uitmaak. Kemp moedig motoriste dus aan om alle bykomende fooie en deurlopende uitgawes in ag te neem om onaangename verrassings te vermy.

Eerstens is daar uitgawes wat die handelaar by jou faktuur voeg om lisensiëring, nommerplate, aflewering en dienswerk te dek.

Aangesien brandstof een van die grootste uitgawes in enige motoris se begroting is, voeg Kemp by dat eksterne faktore ’n beduidende impak op maandelikse lopende koste kan hê.

“Geopolitieke onsekerheid, ontwrigtings in voorsieningskettings en skommelinge in die rand beteken dat brandstofprysstygings in jou maandelikse begroting ingereken moet word wanneer jy ’n nuwe motor oorweeg,” is sy raad.

Onderhandel wys wanneer jy verkoop of inruil

Vir dié wat ’n voertuig verkoop of inruil, beklemtoon Kemp die belangrikheid van deeglike navorsing.

“Die meeste mense aanvaar die eerste aanbod wat hulle kry eerder as om rond te kyk,” sê hy. “Ken die markwaarde van jou voertuig en moenie onderhandel asof jy desperaat is vir ’n ooreenkoms nie. Stap weg indien nodig, totdat jy tevrede is met die aanbod.”

Wanneer jy ’n voertuig inruil, beveel Kemp aan dat jy eers op die prys van die ou motor ooreenkom voordat jy die prys van die nuwe motor onderhandel.

“Hierdie proses staan dikwels as ‘banking’ bekend, omdat die inruilwaarde effektief ‘gebank’ of teen die lening verreken word, wat dit makliker maak om jou volgende voertuig te finansier.”

Ballonpaaiemente: Skuldstrik of nuttige hulpmiddel?

Ballonpaaiemente – ’n groot enkelbedrag wat aan die einde van ’n motorlening betaal word – het meer algemeen geword namate verbruikers maniere soek om motorfinansiering meer bekostigbaar te maak.

Hoewel dit maandelikse paaiemente laer en meer aantreklik hou, waarsku Kemp dat dit ’n uitdaging kan word in die geval van ’n ongeluk of as jou motor se inruilwaarde minder is as die ballonbedrag.

“As jou motor afgeskryf, gesteel of gekaap word, en dit slegs vir markwaarde verseker is, kan jy steeds ’n groot bedrag aan die bank skuld. Dit beteken jy betaal vir ’n motor wat jy nie meer bestuur nie.”

Die keuse van die regte motorversekering

Of jy koop of verkoop, versekering bly ’n kritieke oorweging. Motoriste kan kies tussen derdeparty-dekking, beperkte brand- en diefstaldekking, of omvattende versekering.

“Die waarde van jou motor – en dus die koste om dit te herstel of te vervang – behoort jou keuse van versekering te bepaal,” sê Kemp. “Omvattende dekking bied beskerming teen toevallige skade, diefstal en derdeparty-aanspreeklikheid, en gee gemoedsrus dat jou belegging beskerm is.”

Banke vereis ook dat ’n voertuig omvattend verseker moet wees gedurende die finansieringstydperk.

Hy verwys ook na kortvaldekking in die konteks van ballonpaaiemente: “Dit kan nie net die risiko van ’n ballonpaaiement dek in die geval van diefstal of ’n ongeluk nie, maar jy kan ook bykomende krediet- of kortvaldekking kry vir wanneer jy ’n finansiële krisis het.”

Versekeringspremies word deur verskeie faktore bepaal, insluitend die maak en model van die voertuig, hoe dit gebruik word, waar dit geparkeer word en die gekose bybetaling (excess). Dit is ook belangrik om die verskil tussen kleinhandelswaarde en billike markwaarde te verstaan, aangesien dit bepaal hoe ’n eis uitbetaal sal word indien ’n voertuig gesteel of afgeskryf word.

Hoewel dit aanloklik mag wees om die goedkoopste premie te kies, waarsku Kemp dat bekostigbaarheid nie ten koste van voldoende dekking moet kom nie.

“Soms eindig ‘goedkoop’ versekering duur as jy nie behoorlik gedek is nie,” sê hy. “Die doel is om ’n oplossing te vind wat jou begroting balanseer met die vlak van beskerming wat jy werklik nodig het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button