Local newsNews

Braam en MooiParys het ‘n verskil gemaak

Weens gesondheidsuitdagings en kwynende fondse is dit net nie meer volhoubaar om MooiParys aan die gang te hou nie.

Vir jare het die nie-winsgewende organisasie MooiParys gehelp om Parys skoon te hou en mooi te maak. Week na week is vullis opgetel in die dorp se hoofstraat kort voor die naweek wanneer besoekers dié Vrystaatse dorp se gasvryheid kom geniet.


‘n Projek is saam met Parys Info aangepak vir kleurvolle, en kunstige vullisdromme, waarop van die dorp se plaaslike kunstenaars hul talent gewys het. In 2023 het die speelpark in Eerstelaan ‘n nuwe baadjie gekry toe daar mooi gemaak is. Daar is verskeie kere gehelp om die dorp se ou begraafplaas skoon te maak, gemeenskapsskoonmaakprojekte gehou saam met ander organisasies, dorpsingange verfraai en blomme geplant saam met inwoners wat hand bygesit het, en selfs gedroom van ‘n projek om die dorp se sypaadjies te herstel en blombakke hier te plaas.

Braam Cilliers, die man wat die dryfkrag was agter MooiParys, saam met Patrick wat sedert die begin van die inisiatief sy deel gedoen het. Patrick is intussen oorlede. Foto: Liezl Scheepers
Braam Cilliers, die man wat die dryfkrag was agter MooiParys, saam met Patrick wat sedert die begin van die inisiatief sy deel gedoen het. Patrick is intussen oorlede. Foto: Liezl Scheepers


Vir ses jaar is daar ‘n verskil gemaak in die dorp, maar MooiParys het aan die einde van ‘n lang en mooi pad gekom. Weens gesondheidsredes en kwynende fondse om die projek aan die gang te hou, het Braam Cilliers deur wie se inisiatief die projek begin is, die moeilike besluit moes neem om halt te roep met MooiParys se werksaamhede.

Die MooiParys-span se hande het week na week gehelp om Parys se hoofstraat skoon te hou. Foto: Liezl Scheepers
Die MooiParys-span se hande het week na week gehelp om Parys se hoofstraat skoon te hou. Foto: Liezl Scheepers


Die gedagte het in 2020 tydens ‘n vergadering by hom pos gevat om te begin met ‘n dorpskoonmaakprojek wat maklik van die grond af gekry kon word.

Die Ngwathe Warrior-karakters, Whatty en Naughty het vele bewusmakingsprojekte vir 'n skoner dorp by veral skole gedoen oor die afgelope jare. Foto: Liezl Scheepers
Die Ngwathe Warrior-karakters, Whatty en Naughty het vele bewusmakingsprojekte vir ‘n skoner dorp by veral skole gedoen oor die afgelope jare. Foto: Liezl Scheepers


Weens Covid moes die projek vir ‘n kort rukkie op ys gesit word, maar het Braam toe uit eie sak die bal aan die rol gesit. Ander het met geesdrif begin ondersteun, en is die Ngwathe Warriors as nie-winsgewende organisasie begin.


Later is die naam MooiParys aangeneem, en is daar volstoom gewerk om ‘n verskil te maak wat deur menige besoeker aan die dorp raakgesien is, wanneer opgemerk is hoe skoon die strate is.


Baie het Braam se hand sterk gemaak – hetsy deur gereelde bydraes, of skenkings van toerusting. Ander soos Paul Noome, Stephanie Fourie en Hannelie Cloete-Van Heerden het help mooi maak veral by die dorpsingange.


MooiParys het ook ywerig gewerk om die dorp te bemark vir die Kwêla Dorp van die Jaar kompetisies.
Maar MooiParys was ook meer as ‘n dorpskoonmaakprojek. Dit het brood op die tafel gesit vir ses tot agt mense die afgelope jare.


Ongelukkig het bydraes vir die projek nou grotendeels opgedroog en bly mense mors op oop terreine en met vullissakke wat te vroeg uitgesit word en dan sakgrawers lok.


Om die dorp op ‘n Vrydag te kon skoonmaak het tot R600 aan arbeid en sakke in die verlede gekos.
Geld wat daar nie meer is nie, en werk wat nou nie meer verskaf kan word nie.


Braam het egter dankbaarheid in sy hart vir elkeen wat die afgelope ses jaar gehelp, bygedra en ondersteun het, ook die Ngwathe Munisipaliteit se vullisverwyderingspan wat deurentyd hul kant bring. MooiParys het ‘n verskil gemaak!

Indien daar iemand sou wees wat graag die projek wil voortsit kan Braam gekontak word by 072 779 4079.

Die foto’s hieronder gee ‘n beeld van enkele van die projekte waarby MooiParys die afgelope jare betrokke was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button