Talle gered ná kitsvloede in Noordwes
Mense is weer gewaarsku om uiters versigtig te wees waar water oor paaie sou spoel en om voordat jy reis seker te maak of roetes toeganklik is.

Uitsonderlike dapperheid van lede van die polisie se duikeenheid in Noordwes, sowel as die Vryburg K9-eenheid, is die afgelope week gesien ná swaar reënval tot kitsvloede gelei het.

Adjudant-offisiere Christo van Heerden, Pieta Lamprechts, Walter Congwane en Johan van Wyk, saam met kapt. Topsie Smit, asook sersant Moletsane Alfred Moloi van die Vryburg K9 Soek- en Reddingseenheid, werk sedert die vroeë oggendure van 1 Mei ononderbroke nadat die eerste noodoproep omstreeks 03:30 ontvang is. Tot dusver het hulle altesaam tien reddingstonele en een bergingsoperasie hanteer.

Tydens hierdie voorvalle is altesaam agt persone uit die water gered. Drie van hulle het aan boomtakke vasgeklou om te oorleef in Reivillo, Pudimoe en Taung, terwyl vyf ander gered is nadat die voertuie waarin hulle gereis het, deur vloedwater meegesleur is, het kolonel Adéle Myburgh gesê.

Tragies genoeg het ’n 12-jarige meisie Sondagmiddag, 3 Mei, gesterf nadat sy in ’n steengroef in Lokgabeng, langs die Mokasa 2-nedersetting in Taung, gaan swem het. Haar liggaam is Maandag gekry.
Genl.maj. (Dr.) Ryno Naidoo, waarnemende provinsiale polisiekommissaris sê die toewyding, moed en onwrikbare verbintenis wat deur die polisieduikers en soek- en reddingslid gewys is, weerspieël die waardes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. “Hulle het hul eie lewens in gevaar gestel om ander onder uiters gevaarlike omstandighede ander te red. Ons eer hul dapperheid en betuig ons innige meegevoel aan die familie van die jong meisie wat tragies haar lewe verloor het,” het Naidoo gesê.



