Lesotho-Hoogland Waterprojek: Uitsonderlike ingenieursvernuf so gedenk
Vandag is dit steeds 'n verstommende gesig om die water uit die reuse tonnel met 'n deursnee van 5m te sien uitstroom.
Die Sandsteen Monument op Clarens se ou markplein herdenk die Lesotho Hoogland Waterprojek (1991-1996). Dié uitsonderlike ingenieursmeesterstuk behels ‘n stelsel van groot damme en tonnels deur Lesotho wat water aan die Vaalrivier-stelsel in Suid-Afrika voorsien.
Die storie van die projek het in 1986 begin met ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Lesotho en Suid-Afrika om hidro-elektriese krag aan Lesotho te voorsien en water aan Suid-Afrika.
In 1987 is begin met die bou van die Katse Dam. Konstruksie aan die tonnels is in 1990 begin.


‘n Groot ondergrondse watertonnel , die Trans Caledon-tonnel bring water vanaf die Lesotho Hooglande na ‘n weir (keerwal ) voor dit in die Ash River Outfall noord van Clarens invloei. Vandag is dit steeds ‘n verstommende gesig om die water uit die reuse tonnel met ‘n deursnee van 5m te sien uitstroom.


Die sukses van hierdie watertonnel na die Ashrivier wat in 1996 voltooi was, word in Clarens deur middel van die monument onthou. Bo-op die sandsteen monument is nuwe en gebruikte snyers van die Wirth Tonnel Boormasjien wat werksaam was in 19 km van die toevoer-tonnel noord van Clarens .




