Chaos toe vragmotor met speenkallers omslaan
Daar is groot dank vir elkeen wat hulp op die toneel verleen het.
‘n Dubbeldekker vragmotor van Karan Beef wat na raming meer as 100 speenkallers na ‘n voerkraal buite Parys vervoer het, het kort voor 17:00 vanmiddag op die draai by Pine’s Antiques omgeslaan, nadat die vragmotorbestuurder vermoedelik beheer oor die vragmotor verloor het.
Van die kallers kon vinnig na die ongeluk uit die vragmotor kom, en is in ‘n tydelike kraal op ‘n woonperseel naby die ongelukstoneel gehou.


Dié kallers kon net voor 20:00 op ‘n ander vragmotor gelaai word, en na die voerkrale geneem word.
Die vragmotor wat omgeslaan het, is net na 19:00 deur Prinsloo Recovery opgetrek, met van die beeste wat toe nog in die vragmotor was.




Met die ongeluk is van die kallers beseer en moes onder die wakende oog van die DBV en ‘n veearts wat deurentyd op die toneel was, van kant gemaak word. Dit is nog nie bevestig hoeveel kallers weens die ongeluk dood is nie.



Die vragmotorbestuurder is ongedeerd.
Die vragmotor is van die toneel na die voerkrale gesleep waar die kallers wat toe nog in die vragmotor was, afgelaai sou word onder toesig van die veearts om na die diere se welstand om te sien.
Nooddienste en wetstoepassers het hul hande vol gehad om mense weg van die toneel te hou ter wille van hul veiligheid met kallers wat verbouereerd uit die vragmotor gekom het.
Daar was egter ook vele vrywillige hande wat met deernis op die toneel hulp verleen het. Onder hulle was twee broers, Tiaan en Nathan Botha. Tiaan het verbygery en die beeste in die straat sien hardloop. Hy het dadelik gestop om te help. Sy broer Nathan was by die huis toe sy ma hom gebel het, om ook te kom help. Met Tiaan se ervaring van beeste op ‘n melkplaas, het die broers ‘n ongelooflike bydrae gelewer om na die kallers in die tydelike kraal te kyk, terwyl nooddienste op die toneel besig was.


Verskeie vragmotors en motors het in die verlede al op die draai beheer verloor, maar was dit die eerste keer dat ‘n vragmotor wat lewende hawe vervoer het en ‘n ongeluk van dié omvang hier gesien is.



