Evas se omgee help bejaarde-hande besig hou
Sensoriese of vroetelkomberse hou veral voordeel in vir pasiënte met demensie en Alzheimers se siekte
Omgeehande van die Evas het vreugde gebring vir bejaardes toe daar uitgereik is na verskeie tehuise vir bejaardes in die dorp waar sensoriese komberse aan pasiënte met demensie of Alzheimer se siekte oorhandig is.
Die Evas is ‘n groep vroue wat maandeliks byeen kom om handvaardighede te leer, en is die vroue met hul byeenkoms in Mei gewys hoe om dié komberse te maak.
Sensoriese of vroetelkomberse hou veral voordeel in vir pasiënte met demensie en Alzheimers se siekte, omdat dit spesifiek fokus op fyn motoriese vaardighede en angs by hierdie pasiënte verminder wanneer die fokus op verskillende materiale geplaas word om ‘n gevoel van veiligheid en kalmte te skep.
‘n Kombinasie van elemente word gebruik om verskillende sintuie te prikkel.
Dit sluit in:
Teksture: Sagte en growwer materiale, kant of lint
Visuele elemente – Helder klere of patrone wat aandag trek
Geheue elemente – Sakke waar ‘n bekende foto of sagte voorwerp in weggesteek word.
Fynbewegingsitems: Knope, ritsluiters ensovoorts word op die komberse vasgewerk om die hande aktief besig te hou met take wat ‘n pasiênt met demensie kan bemeester.


Die sensoriese komberse voorkom ook dat pasiënte aan hul klere of mediese toerusting soos drupnaalde vroetel.
Elkeen van die komberse wat aan die bejaardes oorhandig is, is handgemaak met liefdevolle hande deur die Eva-vroue, en is die eerste van hierdie komberse Donderdag vir bejaardes van Sonskyn Tehuis oorhandig tydens die tweeweeklikse kunsaktiwiteit wat deur van die Evas vir dié bejaardes aangebied word.
‘n Uur van omgee waar die Eva-vroue tyd saam met die bejaardes spandeer. Verlede week is sandkuns gedoen. Ina Janse van Rensburg vertel dat die kunsaktiwiteite wat saam met die bejaardes gedoen word, spesifiek gekies word sodat die bejaardes dit kan bemeester.


Die kunsaktiwiteite vir die bejaardes is gebore uit die Eva-samekomste, en ‘n gevoel om ook op dié manier iets vir bejaardes te kan doen.


As jy jou omgee vir bejaardes wil wys deur betrokke te raak by die projek, of enige kunsmateriaal het waarvoor jy nie meer nut het nie, maar graag wil skenk vir die Evas, gesels met Ina by 076 660 1035.
Vroue wat graag by die Eva-groep betrokke wil raak is ook welkom om ‘n WhatsApp te stuur na Susan Britz by 061 091 4609 om ingesluit te word by die Whatsapp-groep.
Datums vir die jaar se saamkuiers by die Suid-kerksaal is:
20 Junie
11 Julie
15 Augustus
19 September
17 Oktober
7 November.



