Dis die klim aan die einde wat jou vang, sê bergfiets-meester oor Crater Cruise uitdaging
Die Crater Cruise bied verskillende afstande waaraan deelgeneem kan word - van die meer ervare fietsryer tot die minder ervare avonturier.
Groot name in fietsrykringe sal op 14 Junie by Koedoeslaagte in Parys saamtrek vir die Koepel se nou reeds bekende Crater Cruise-bergfietsren.
Dié uitdagende roete verg baie konsentrasie, maar dit is die laaste 30 km se lang klim wat die moeilikste is, nadat die Koepel se grondpaaie jou bene al vir etlike kilometers gemartel het, gesels Johan de Villiers Sr.
Johan trap vanjaar vir die eerste keer in die Meesters-afdeling van dié gedugte bergfietsren. Hy het sedert die ontstaan van die Crater Cruise in 2004 deelgeneem.

“Vir my eerste Crater Cruise moes ek ‘n fiets leen,” gesels hy. Hy onthou die fiets het nog aan die agterkant ‘n carrier gehad en gewone fietspedale, met die gevolg dat Johan met carrier en al, en met tekkies moes ry.
Vir Johan is die Koepel se grondpaaie geen onbekende terrein nie. Hy oefen gewoonlik op die Koedoeslaagte-pad en die Crater-roete. Sy tipiese week se oefenprogram sluit tussen 9 en 12 ure se fietstrap van Maandag tot Vrydag in. Saterdae en Sondae is dit ‘n drie ure lang rit van sowat 80 km.
Wat die Crater Cruise onderskei van ander bergfietsrenne is die moeilike terrein met min rusplek om jou bene ‘n blaaskans te gee, en die uitsonderlike mooi omgewing in die Vredefort Koepel-wêrelderfenisgebied waardeur die Vaalrivier kronkel.
Johan se raad aan deelnemers is om seker te maak jou fiets is betroubaar, om genoeg water by jou te hê, en om seker te maak jy spandeer vooraf genoeg oefentyd op jou fiets om voor te berei.
“Dan glo ek jy sal reg wees,” sê Johan.
Hoewel hy van die begin van die Crater Cruise deelgeneem het, sal dit vanjaar die eerste keer in jare wees dat hy weer deelneem. Oor sy verwagtinge vir vanjaar se Crater Cruise meen Johan hy sal dankbaar wees om tussen 5 en 5½ ure, tot 6 ure, klaar te maak.
Naas fietsry is Johan ook ‘n kranige atleet. Aanvanklik het hy die Comrades Marathon nege keer voltooi voordat hy hom op fietsry toegespits het. Hy het in 2010 begin fietsry en by Ben van der Merwe se fietsrygroep aangesluit. Op Saterdae het hy aangesluit by die groepritte.
“Ek dink my eerste Crater-fietsren het my sowat vyf ure geneem om te voltooi. Dit was hard – baie hard.”
Van sy fietsryhoogtepunte was die 24 Hour Race, aangebied deur Anatomic, wat Johan as solo-deelnemer gewen het. Dit was ‘n baie gewilde event en baie deelnemers het van ver en naby gekom om as spanne of solo-deelnemers te kompeteer. Johan se seun, Johan Jr, is self ‘n uitstaande fietsryer en die twee het saam aan die Crater Express 90 km deelgeneem wat in April in Parys gehou is. Johan Jr, wat vir Thenolo Pro Cycle Team ry, het die fietsren gewen.
“Ek het so ‘n lang ruk na hom ingekom,” sê Johan met trots oor sy seun se prestasie.
As jy nog nie ingeskryf het vir die Crater Cruise nie, is dit nou jou kans.
Danksy ongelooflike borge en ondersteuners word die aanbieding van dié top-fietsren moontlik gemaak.
Gaan na https://www.cratercycling.com/cratercruise vir meer inligting oor die roetes en inskrywings.



