Local newsNews

Ngwathe: So lyk die pad vorentoe ná hof beslis

Provinsiale regering moet hofbevel implementeer.

Hoewel die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se stryd om teen ‘n 2025-hofbevel vir provinsiale ingryping te appèlleer, verlede week ‘n finale nekslag in die Konstitusionele Hof toegedien is, moet daar nou gewag word op die Vrystaatse Provinsiale Regering om die hofbevel ten volle te implementeer.


Die burgerregteorganisasie AfriForum het in Mei 2024 sy aansoek ingedien by die Bloemfonteinse Hooggeregshof en versoek dat die Ngwathe-munisipaliteit weens ‘n diensleweringskrisis onder provinsiale administrasie geplaas word.


Die saak is in Desember daardie jaar aangehoor, en in Junie 2025 het regter J.P. Daffue sy uitspraak gelewer. Hy het beslis dat die Ngwathe-munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort nakom nie.


Hy het beveel dat die munisipale raad ontbind moet word en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp.


Die munisipaliteit het egter herhaaldelik en sonder sukses probeer om teen dié beslissing te appelleer – eers by die Hoogste Hof van Appèl en daarna ook by die Konstitusionele Hof wat verlede week die aansoek met koste van die hand gewys het.


Volgens Tammy Breedt, Vryheidsfront Plus LP, het die provinsiale regering 14 dae na ‘n konstitusionele hof beslissing geleentheid om Ngwathe in terme van Artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet waarop die hofbeslissing berus, kennis te gee dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas word.


Die vereistes en voorwaardes van administrasie en wie die uitvoerende verteenwoordiger sal wees, moet deur Saki Mokoena, VS LUR van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, aangekondig word.


Wetgewing bepaal dat ‘n administrateur ‘n enkele persoon of ‘n span kan wees, sê Breedt.
Die provinsiale regering sal ook ‘n kennisgewing aan die voorsitter van die nasionale raad van provinsies stuur, wat dan verwys sal word na die gekose komitee van Cogta wat die Ngwathe-munisipaliteit sal besoek.


In praktiese terme beteken dit dat die administrateur dan aangestel word, die raad sy magte en bevoegdhede verloor en moet ontbind.


Met die munisipale verkiesing in November, is die tyd vir ‘n tussenverkiesing egter waar die tammeletjie inkom, verduidelik Breedt.


As dit kom by ‘n herverkiesing is Artikel 25(6)(a) en 25(6)(b) van die strukturewet van toepassing en sal ‘n finale beslissing hieroor na verwagting gemaak moet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button