‘n Fees van talent op die Allegretto-verhoog
Maak gerus 'n draai en kom luister na die talent van hierdie kinders.
Liefhebbers van musiek word genooi om te kom luister na die eerste luisterryke uitdunne van vanjaar se Allegretto Nasionale Esteddfod op Donderdag 18 Junie vanaf 14:00 in die NG Klipkerk in Vredefort.
Uitstaande instrumentale en sangitems van hierdie talentvolle groep kinders wat vanjaar ingeskryf het, sal gehoor kan word.

Die provinsiale uitdun van die Eisteddfod vind later vanjaar in Potchefstroom plaas, met Vredefort wat weer gasheer sal wees vir die finale uitdun wat in Oktober in die NG Klipkerk gehou word.
Een van die inskrywings vir vanjaar se uitdunne is die orrelspel van die 9-jarige Fleur Walt-Vermaak. Fleur sal tydens Donderdag se uitdun gehoor word op die besondere drie-manuaal Fehrle Roeleveld-orrel in die kerkgebou.

Die ikoniese orrel het die toets van die tyd deurstaan en is in 1975 onder die wakende oog van die bekende Prof. Albert Troskie op die galery geïnstalleer en geregistreer. Vandag – meer as ’n halfeeu later, klink hy steeds so nuut en kragtig soos op sy eerste dag.
Skade wat jare gelede deur weerlig veroorsaak is, is onder die fyn hande van orrelbouer en stemmer, Archie Devere, herstel tot splinternuwe glorie, en met 2026 pype is hierdie orrel nie net ’n instrument nie, maar ’n ware hartklop van die gemeente.
De Wet-spore lê diep in Klipkerk se musiekstorie:
’Die bekende generaal C.R. de Wet, het ook destyds op die kerkraad van die NG gemeente Vredefort gedien voordat hy kabinet toe is, en het ná die Tweede Vryheidsoorlog waarin die gemeente se eerste harmonium verwoes is, die helfte van n nuwe harmonium betaal (30 pond). Die nuwe harmonium het in 1904 begin diens doen in die gemeente.
Die ou orreltjie is tot in 1931 gebruik toe ‘n pyporrel vir die nuwe kerkgebou gekry is. Die inwyding van die orrel was in Maart 1931.Die totale koste vir die orrel het 1 305 pond beloop waarvan vroue in die gemeente in 1927 al 515 pond bymekaar gemaak het vir die nuwe orrel.



