Local newsNews

Versorgingsopleiding vir die eerste keer na huise regoor SA gebring

Die nuwe hibriede opleidingsmodel kombineer aanlyn teorie met praktiese opleiding in studente se eie gemeenskappe.

Die behoefte aan opgeleide versorgers word groter elke jaar. Nie net in ouetehuise en versorgingsentrums nie, maar ook binne families, kerke en gemeenskappe waar mense daagliks na geliefdes omsien.

Om die behoefte aan te spreek het Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut ‘n aanlyn opleidingsmodel bekendgestel wat versorgingsopleiding toeganklik maak vir mense wie se lewensomstandighede nie voltydse studies in Pretoria toelaat nie.

Die nuwe deeltydse Tuissorgassistent-kursus wat in Augustus vanjaar afskop, gee aspirant-versorgers regoor Suid-Afrika die geleentheid om ‘n geakkrediteerde kwalifikasie te verwerf sonder om hul werk, gesinsverantwoordelikhede of bestaande verpligtinge prys te gee.

Vir baie mense is tuisversorging nie bloot ‘n beroep nie, maar ‘n roeping. Tog het praktiese uitdagings soos werkverpligtinge, gesinsverantwoordelikhede, afstand en finansiële beperkings dit vir baie mense moeilik gemaak om formele opleiding in die veld te ontvang.

Die versorgingsopleiding word toeganklik gemaak vir mense wie se lewensomstandighede nie voltydse studies in Pretoria toelaat nie. Foto: Solidariteit Helpende Hand
Die versorgingsopleiding word toeganklik gemaak vir mense wie se lewensomstandighede nie voltydse studies in Pretoria toelaat nie. Foto: Solidariteit Helpende Hand

Volgens dr. Elsha Hermann, hoof van die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, is die nuwe model ontwikkel om juis hierdie struikelblokke te oorkom.

“Ons sien daagliks mense wat ‘n passie het om ander te dien, maar wat eenvoudig nie hul werk kan los of hul gesinsverantwoordelikhede vir voltydse studies kan verruil nie. Hierdie model is nie ontwerp om opleiding makliker te maak nie. Dit is ontwerp om dit moontlik te maak.”

Die nuwe hibriede opleidingsmodel kombineer aanlyn teorie met praktiese opleiding in studente se eie gemeenskappe. Dit beteken dat studente die akademiese gedeelte vanuit hul eie huise kan voltooi, terwyl hulle praktiese werkservaring by goedgekeurde versorgingsfasiliteite naby hul woonplek opdoen.

Die kursus strek oor nege maande en lei tot ‘n QCTO-geakkrediteerde Beroepsertifikaat: Tuissorgassistent (NKR Vlak 2, 68 krediete).

Studente voltooi die teoretiese gedeelte aanlyn en neem Dinsdae en Donderdae tussen 18:00 en 20:00 aan regstreekse aanlynsessies deel. Daarbenewens woon hulle drie weeklange praktiese opleidingsblokke gedurende die kursus by. Hierdie blokke sal in verskillende hoofsentrums regoor Suid-Afrika aangebied word om reisvereistes so prakties moontlik te hou.

Benewens die kwalifikasie ontvang studente ook ‘n Noodhulp Vlak 1-sertifikaat, ‘n basiese versorgerstas, uniform, toegang tot die instituut se aanlyn leerplatform en deurlopende akademiese ondersteuning.

Die kwalifikasie bied verskeie loopbaanmoontlikhede. Gegradueerdes kan werk in versorgingsentrums, ouetehuise, mediese sorgfasiliteite of privaat tuisversorging onder toepaslike professionele toesig doen. Die kursus dien ook as ‘n waardevolle grondslag vir verdere studies binne die versorgings- en gesondheidsorgsektor.

Die totale studiekoste beloop R22 000, bestaande uit ‘n registrasiefooi van R1 200 en studiekoste van R20 800. Rentevrye studielenings is beskikbaar deur die Solidariteit Helpende Hand Studietrust vir kwalifiserende studente.

Die kursus is veral geskik vir mense wat buite Gauteng woon, ouers met afhanklikes, persone wat reeds voltyds werk of enigiemand wat graag ‘n betekenisvolle kwalifikasie wil verwerf sonder om hul bestaande verantwoordelikhede prys te gee.

Aansoeke vir die eerste aanlyn inname sluit op 24 Julie 2026 en die kursus begin op 4 Augustus 2026. Vir meer inligting of om aansoek te doen, besoek: https://helpendehandopleiding.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button