Korrupsie sal nie geduld word sê kommissaris ná voormalige polisielede se skuldigbevinding
Die vonnisse stuur 'n duidelike boodskap dat geen polisielid bo die reg verhewe is nie en dat alle lede te alle tye binne die voorskrifte van die wet moet optree.
Die Waarnemende Provinsiale Kommissaris van die polisie in Noordwes, generaal-majoor (dr.) Ryno Naidoo, het die skuldigbevinding en vonnisoplegging van twee voormalige polisielede vir korrupsieverwante misdrywe verwelkom en beklemtoon dat korrupsie binne die polisiediens nie geduld sal word nie.
Die skuldigbevindings spruit uit twee afsonderlike ondersoeke wat deur die Provinsiale Anti-Korrupsie-eenheid gedoen is.
In die eerste saak is bewys gelewer dat adjudant-offisier Thabo Alfred Maku (56) en konstabel Lebogang Lawrence Sebole (38) in November 2020 glo R4 000 van die eienaar van ‘n slaghuis in Tlhabane geëis het nadat hulle oortredings van die Wet op Vleisveiligheid geïdentifiseer het. Albei lede was destyds aan diens en verbonde aan die Phokeng Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid.
Die hof het gehoor dat die slaghuis-eienaar die geld oorhandig het, maar dat geen amptelike boete uitgereik of kwitansie verskaf is nie. Die voorval is later aangemeld, waarna ‘n ondersoek gedoen is wat tot hul inhegtenisneming op 18 Augustus 2022 gelei het.
Maku het ná sy arrestasie uit die SAPD bedank, terwyl Sebole uit die polisiediens ontslaan is.
Die twee is op 10 Julie 2026 skuldig bevind. Op 16 Julie is Maku tot ses jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir korrupsie en regsverydeling. Sebole is in dieselfde saak tot vyf jaar direkte gevangenisstraf vir korrupsie gevonnis.
In ‘n tweede saak, wat in Januarie 2022 by Phokeng aangemeld is, het die hof gehoor dat Sebole R7 000 van ‘n klaer geëis het in ruil vir die vrystelling van ‘n voertuig wat as bewysstuk gekonfiskeer is.
Nadat die Direkteur van Openbare Vervolgings in Noordwes toestemming vir ‘n lokvaloperasie gegee het, is die operasie uitgevoer en Sebole in hegtenis geneem.
Hy is ook op 10 Julie skuldig bevind en op 16 Julie tot ‘n verdere ses jaar direkte gevangenisstraf vir korrupsie gevonnis. Die hof het beveel dat dié vonnis gelyktydig met die vonnis in die Tlhabane-saak uitgedien moet word.
Beide voormalige polisielede is ook ingevolge Artikel 103 van die Wet op Beheer van Vuurwapens onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Naidoo het gesê die vonnisse stuur ‘n duidelike boodskap dat geen polisielid bo die reg verhewe is nie en dat alle lede te alle tye binne die voorskrifte van die wet moet optree.
Hy het die publiek verseker dat enige misbruik van gesag, korrupsie of optrede wat die gemeenskap se vertroue in die polisie ondermyn, beslissend hanteer sal word.
Naidoo het ook adjudant-offisier William Armstrong van die Provinsiale Anti-Korrupsie-eenheid, advokaat Zola Mpayipheli van die Direkteoraat van Openbare Vervolgings, asook alle ander rolspelers geloof vir hul professionaliteit en toewyding wat tot die suksesvolle vervolging van die sake bygedra het.



