Seëls versamel maak deure oop vir ‘n wêreld van kennis
'n Uitstalling van lede van die Sasolburgse Filatelievereniging kan van 27 tot 31 Julie by die Sasolburgse Openbare Biblioteek besigtig word.
Seëls kan dalk iets wees wat jy nie sommer meer sien nie, maar as die versamelgogga jou gebyt het, raak aanlynveilings en internethandel met seëls amper soos kar koop.
Elke seël vertel ‘n storie.
Daar is min stokperdjies wat jou kennis so verbreed as seëlversameling.
Wêreldwyd word daar met geskiedkundige gebeurtenisse, maar ook rondom spesifieke temas, seëls uitgereik. Dit is juis hierdie tema-versamelings wat baie gewild is onder seëlversamelaars.
Van Suid-Afrika se laaste seëls is byvoorbeeld na ‘n wêreldbeker rugby-oorwinning vrygestel.
Van 27 tot 31 Julie kan jy van die indrukwekkende tema-versamelings van lede van die Sasolburgse Filatelievereniging te siene kry by ‘n streekuitstalling in die Sasolburgse Openbare Biblioteek.
Toegang is gratis. Mense kan tussen 09:00 en 16:00 na die besondere uitstalrame gaan kyk.
Twee Parysenaars, Koos de la Rey en Trevor Harris, se tema-versamelings sal ook vanjaar weer by die uitstalling te sien wees.
Koos beoog om onder meer sy tema-versamelings oor konings en koninginne, Land van die Duine (Suidwes) en bedreigde voëlspesies te vertoon.

Die versamelgogga het hom kleintyd gebyt en het hy van note tot seëls versamel.
Met die jare was daar nie veel tyd vir Koos en Trevor om hul seëlversamelings uit te brei nie, maar deesdae geniet dié twee vriende die stokperdjie terdeë.

Hulle het verlede jaar ook kennis gemaak met Sannette Buys, nog ‘n geesdriftige plaaslike seëlversamelaar wat op vyfjarige ouderdom begin seëls versamel het, nadat haar pa vir haar ‘n paar seëls gegee het.
Onbewus van Trevor en Koos wat dieselfde passie vir seëls het as sy, het haar seun se internetsoektog na plaaslike seëlversamelaars, haar gehelp om kontak te maak met hulle.
Die drie kan ure aaneen gesels oor die stokperdjie wat hulle soveel plesier gee, want filatelie gaan oor meer as net die versameling van seëls. Vir sommige is dit ‘n stokperdjie – vir ander ‘n belegging.
Seëls se waarde wissel van goedkoop items tot skaarses wat miljoene werd is – veral dié met drukfoute. Die tipe papier, perforasie, stempels en watermerke het alles ‘n invloed op die waarde.
By die sreekuitstalling sal lede van die Sasolburg Filatelievereniging waarvan Trevor, Koos en Sanette deel is, vrae kan beantwoord oor seëlwaardasies. Lede sal ook meer inligting gee oor hul eie versamelings by die uitstallling.
Alle belangstellendes, ook skoolkinders, is welkom by die uitstalling.
En as die versamelgogga jou byt is die naaste filatelie verenigings om by aan te sluit in Sasolburg, Welkom en Bloemfontein.
Mense wat navrae het oor die uitstalling en seëlversameling kan Koos skakel by 082 638 6947.



