Breinaalde wikkel vir voëlnessies by rehabilitasiesentrum
Waar daar ook al gehelp moet word, is die Breihoekie se vroue altyd gereed om hul breinaalde uit te haal.
Vir drie weke aaneen het die breinaalde by Villa Riviera se Breihoekie gewikkel om 23 klein nessies te brei. Maar hierdie is nie sommer enige nessies nie. Dié gebreide nessies sal gebruik word om voëllyfies by Parys WADER (Parys Wetland Avian Development and Emergency Rescue NPC) warm te hou. Parys WADER se Marisa Louw het die idee vir die gebreide nessies op ‘n ander rehabilitasiesentrum se sosialemediaplatforms raakgesien.
Nadat sy die gemeenskap om hulp gevra het om die nessies te brei of hekel, het Cornelia Janse van Rensburg haar laat weet dat die vroue van Villa Riviera se Breihoekie reeds flink besig is om die breinaalde te laat wikkel. Altesaam 23 nessies is reeds gebrei en aan Parys WADER oorhandig.
Cornelia vertel dat van die wol geskenk is, maar dat daar ook wol aangekoop is.
Waar daar ook al gehelp moet word, is die Breihoekie se vroue altyd gereed om hul breinaalde uit te haal. Of dit nou serpe vir motorwagte, of items vir die kerk is – hul vlytige vingers help om ander warm te hou gedurende die winterkoue.


Met haar pa wat ‘n veearts was, het Cornelia ‘n sagte plek vir diere en het sy vroeër al as vrywilliger by Parys WADER gehelp. Daarom het sy en die Breihoekie se Annetjie Liebenberg, Helen Muller, Brenda Marais, Joey Weideman en Olga Kruger ook nie geskroom toe hulp met die nessies gevra is nie.
Marisa verduidelik dat Parys WADER in die verlede plastiekhouers as nessies gebruik het, maar dat dit nie ideaal is nie. Die gebreide nessies sal ‘n groot verskil maak vir siek en babavoëls in Parys WADER se sorg deur hulle warm en beskut te hou. ‘n Basiese breipatroon vir mussies word vir die nessies gebruik, en gewillige hande is altyd welkom om te help brei.


Die gesellige saambrei by Villa Riviera vind elke Dinsdagoggend vanaf 10:00 plaas, danksy Petro Kriel se idee om die breiklub te begin. Pleks daarvan dat elkeen alleen by die huis brei, bied dié weeklikse byeenkoms nou die geleentheid om ‘n gemeenskaplike liefde vir wol te deel, terwyl kosbare vriendskappe gesmee word.
As jy wil saam brei of graag wol waarvoor jy nie meer nut het nie, vir die Breihoekie wil skenk, kan jy gerus vir Cornelia by 083 447 8190 skakel.



