Local newsNews

SA motoriste nou so geteiken deur gewetenlose swendelaars

Vandag se bedrieërs verstaan digitale bemarking.

Suid-Afrikaners wat aanlyn na vervangingsenjins en ratkaste soek, is gewaarsku om versigtig te wees vir aanlyn swendelaars wat vals motorondernemings skep om niksvermoedende verbruikers uit duisende rande te kul.

Volgens die Motor Industry Workshop Association (MIWA) skep bedrieërs professionele webwerwe en sosiale media bladsye wat wettige motorondernemings naboots. Hulle gebruik dikwels die werklike fisiese adresse van motorwerkswinkels om geloofwaardig voor te kom.

Teresa Spenser Higgs, MIWA se streekondervoorsitter vir die Oos-Kaap en bestuurder van D & T Servicing, het onlangs ontdek dat bedrieërs haar werkswinkel se fisiese adres op ‘n vals webwerf gebruik het waar enjins en ratkaste te koop aangebied is.

“Ons was geskok toe mense by ons perseel opgedaag het om enjins te besigtig wat hulle geglo het ons aanlyn adverteer,” vertel Spenser Higgs. “Gelukkig het sommige van hierdie kliënte ons besoek voordat hulle enige betaling gemaak het en besef hulle het met swendelaars te doen gehad. Dit het ons dadelik laat wonder hoeveel ander mense reeds geld oorbetaal het sonder om ooit enigiets te ontvang.”

Nadat sy ondersoek ingestel het, het sy talle soortgelyke webwerwe geïdentifiseer wat presies dieselfde metode gebruik.

“Hierdie vals ondernemings is verbasend maklik en goedkoop om te skep. Hulle het dikwels ooreenstemmende Facebook-bladsye, geborgde advertensies en oortuigende webwerwe. Vir ‘n niksvermoedende koper lyk dit heeltemal wettig.”

Pieter Niemand, nasionale direkteur van MIWA, sê dit is nog nie bekend hoe wydverspreid die probleem buite die Oos-Kaap is nie. Die bedrogspul is egter veral kommerwekkend omdat al hoe meer motoriste hulle tot die mark vir gebruikte onderdele wend om ouer voertuie langer op die pad te hou.

“Daar is absoluut niks verkeerd daarmee om gehalte gebruikte enjins of ratkaste by betroubare verskaffers te koop nie. Baie wettige ondernemings lewer hierdie diens daagliks. Die probleem is dat misdadigers verbruikers se behoefte aan bekostigbare herstelwerk uitbuit deur vals ondernemings te skep wat eenvoudig verdwyn sodra betaling gemaak is.”

Hy waarsku dat verbruikers nooit slegs op ‘n professionele webwerf of sosiale media profiel moet staatmaak voordat hulle geld oorbetaal nie.

“Vandag se bedrieërs verstaan digitale bemarking. ‘n Netjiese webwerf, Facebook-blad of betaalde aanlyn advertensie is geen waarborg dat die onderneming werklik bestaan nie.”

Volgens Niemand behoort verbruikers elke aanlyn aankoop met ‘n gesonde mate van skeptisisme te benader, eerder as om op een enkele aanduiding staat te maak.

Hy beveel aan dat kopers eers bevestig dat die verskaffer ‘n werklike onderneming is, maar waarsku dat selfs dit nie waterdig is nie. Soos hierdie geval toon, kan bedrieërs die adres van ‘n wettige werkswinkel gebruik sonder die eienaar se medewete. ‘n Egte fisiese adres op ‘n webwerf is dus nie bewys dat die verkoper betroubaar is nie.

Illustrasiefoto verskaf
Illustrasiefoto verskaf

Waar moontlik behoort verbruikers onafhanklik te bevestig dat die onderneming werklik vanaf daardie adres bedryf word en dat die kontakbesonderhede ooreenstem met dié van die wettige besigheid. Indien ‘n enjin of ratkas persoonlik besigtig gaan word, moet dit slegs geskied by ‘n plek wat die koper self vooraf bevestig het, en dit is raadsaam om iemand saam te neem.

Indien afstand ‘n besoek onprakties maak, kan ‘n regstreekse video-inspeksie aangevra word voordat enige koop aangegaan word, maar selfs dan moet groot versigtigheid aan die dag gelê word.

Verbruikers word ook aangeraai om verder as die verkoper se eie webwerf of sosiale media bladsye te kyk. Soek onafhanklike kliënte-resensies, vra vir ‘n formele faktuur met die onderneming se registrasiebesonderhede en wees versigtig indien slegs ‘n selfoonnommer as kontakbesonderheid verskaf word. Bowenal moet die volle koopprys nie betaal word voordat daar sekerheid is dat die verskaffer wettig is nie.

“Geen van hierdie stappe kan ongelukkig waarborg dat ‘n transaksie heeltemal risikovry is nie. Misdadigers raak al hoe meer gesofistikeerd en pas voortdurend hul metodes aan. Die beste beskerming is om deurgaans versigtig te bly, veral wanneer die prys aansienlik laer is as soortgelyke aanbiedinge. As iets nie reg voel nie, stap eerder weg en koop by ‘n gevestigde werkswinkel of betroubare onderdeleverskaffer,” sê Niemand.

Moenie dat dringendheid of ‘n winskopie jou oordeel beïnvloed nie. Bevestig soveel as moontlik, maar onthou dat geen enkele kontrole – nie eens ‘n professionele webwerf of ‘n egte fisiese adres – op sy eie voldoende is nie.

Vra vrae, vertrou jou instink en maak eers betaling wanneer jy oortuig is dat jy met ‘n wettige onderneming sake doen. ‘n Bietjie versigtigheid vooraf kan jkeer dat jy ‘n baie duur fout begaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button