Tesourie: Munisipaliteite kry laaste kans, waarskuwing oor streng voorwaardes
Die tesourie het gewaarsku dat amptenare wat nie optree teen finansiële wangedrag nie, self ook aanspreeklik gehou kan word.
Die Nasionale Tesourie sal vanaf Vrydag, 31 Julie die oorblywende Julie-toekennings uit die Plaaslike Regering se Billike Aandeel (Local Government Equitable Share) aan munisipaliteite waar dié fondse vroeër teruggehou is, begin uitbetaal. Die aankondiging is vandag deur die minister van finansies, Enoch Godongwana gemaak.
Gazette het vroeër berig dat die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit onder die 69 sukkelende munisipaliteite (waarvan 16 in die Vrystaat) was wie se aandeel tydelik weerhou is weens nie-nakoming.
Godongwana het aangekondig dat die besluit om die fondse uit te betaal volg na ‘n omvattende evaluering van die betrokke munisipaliteite gedoen is nadat die fondse vroeër in Julie tydelik ingevolge artikel 216(2) van die Grondwet en die bepalings van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) teruggehou is.
Die Nasionale Tesourie het egter benadruk dat die vrystelling van die fondse nie beteken dat die munisipaliteite nou aan die wetlike vereistes voldoen nie.
Daar is daarop gewys dat die ondersoeke ernstige en voortdurende tekortkominge blootgelê het in die bestuur van ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes (UIFWE), finansiële wangedragondersoeke, dissiplinêre prosesse, aanspreeklikheidsmaatreëls en die algemene finansiële bestuur van munisipaliteite.
Die fondse word egter vrygestel omdat dit reeds vir bykans 30 dae teruggehou is en om te voorkom dat inwoners die onmiddellike gevolge van swak munisipale bestuur moet dra, het die tesourie gesê.
Basiese dienslewering moet beskerm word
Volgens die Tesourie is die Billike Aandeel ‘n belangrike bron van finansiering vir noodsaaklike munisipale dienste, veral vir arm huishoudings.
Hoewel die regering ‘n grondwetlike plig het om behoorlike finansiële bestuur af te dwing, moet daar ook verseker word dat gemeenskappe nie sonder basiese dienste gelaat word weens die versuim van munisipale amptenare en instellings nie.
Die vrystelling van die fondse is daarom voorwaardelik en munisipaliteite sal steeds die ernstige tekortkominge wat tydens die ondersoek geïdentifiseer is, moet regstel.
Ernstige bestuursprobleme uitgewys
Die artikel 216(2)-proses het volgens Tesourie veel groter probleme as bloot onreëlmatige uitgawes blootgelê.
Die ondersoeke dui op swak begrotingsbeplanning, gebrekkige kontantvloeibestuur, onvoldoende finansiële toesig, swak aanspreeklikheid en gebrekkige toepassing van dissiplinêre prosesse.
Die tesourie sê hy is ook bekommerd dat sommige munisipale begrotings nie die werklike finansiële posisie van die munisipaliteite weerspieël nie. Die finansiële druk wat onmiddellik ontstaan het nadat fondse teruggehou is, dui daarop dat sekere begrotings moontlik nie realistiese inkomste, kontantvloei, skulde, salariskoste en ander finansiële verpligtinge in ag neem nie.
Gebrekkige aanspreeklikheid
Die ondersoeke het verder ernstige tekortkominge in munisipale bestuur en toesig blootgelê.
Volgens Tesourie het verskeie munisipale rade, Munisipale Openbare Rekeningekomitees (MPAC’s), rekeningkundige beamptes, senior bestuurders en dissiplinêre rade versuim om hul wetlike verantwoordelikhede na te kom.
Daar was onder meer vertragings met ondersoeke na finansiële wangedrag, versuim om dissiplinêre stappe in te stel en swak toepassing van aanspreeklikheidsmaatreëls.
Die tesourie het gewaarsku dat amptenare wat nie optree teen finansiële wangedrag nie, self ook aanspreeklik gehou kan word.
69 munisipaliteite ontvang fondse
Sedert die afdwingingsproses begin het, het
- 20 munisipaliteite reeds hul volle Billike Aandeel ontvang.
- 49 munisipaliteite sal hul uitstaande betalings op 31 Julie ontvang.
- Van dié 49 het 21 reeds gedeeltelike betalings ontvang, terwyl 28 munisipaliteite tot dusver geen betalings ontvang het nie omdat hulle nie aan die gestelde vereistes voldoen het nie.
Strenger toesig voor Desember
Die Nasionale Tesourie het aangekondig dat streng voorwaardes geld voordat die volgende paaiement van die Billike Aandeel in Desember 2026 oorweeg sal word.
Briewe met spesifieke vereistes sal aan premiers, asook aan die LUR’e vir Finansies en Samewerkende Regering (CoGTA), gestuur word.
Munisipaliteite moet ook teen 30 September gedetailleerde vorderingsverslae en ondersteunende bewyse indien en sal nie slegs gekyk word na ‘n afname in onreëlmatige uitgawes nie, maar ook of ondersoeke, dissiplinêre optrede, verhaal van verliese en strafregtelike prosesse behoorlik toegepas is.
Laaste kans
Die Nasionale Tesourie sê die doel van die voorwaardelike vrystelling is om basiese dienslewering te beskerm, terwyl munisipaliteite terselfdertyd ‘n duidelike boodskap kry dat meetbare verbeterings vereis word. Die versekering is ook gegee dat die Tesourie munisipaliteite steeds sal ondersteun om aan die wetlike vereistes te voldoen om ‘n herhaling van die terughouding later vanjaar te probeer verhoed.



