Eiendom en die huwelik – ken jou regte
As jy ‘n eiendom saam met ‘n lewensmaat of iemand met wie jy ‘n romantiese verhouding het, koop, maak seker dat jy ‘n vennootskapsooreenkoms deur ‘n prokureur laat opstel.
Die realiteit is dat huwelike eindig – soms met ‘n egskeiding, maar beslis met die dood.
Dis ‘n ontnugterende gedagte, veral as jy onlangs op een knie gesak of jou ringvinger uitgesteek het op jou sprokie-mooi dag.
“As jy eiendom besit of beplan om vir woondoeleindes, besigheid of belegging te koop, moet jy die implikasies oorweeg voordat jy trou,” sê Renier Kriek, Besturende Direkteur van Sentinel Homes..
Binne gemeenskap van goedere
As ‘hulle’n paartjie nie ‘n huweliksvoorwaardekontrak het nie, word Suid-Afrikaners volgens die wet outomaties geag binne gemeenskap van goedere getroud te wees.
Enige eiendomme wat jy voor jou huwelik besit of daarná verkry het, behoort in gelyke mate aan jou en jou gade.
Beslag kan ook daarop gelê word om jou gade se skuld af te betaal, en jy kan dit nie sonder jou lewensmaat se toestemming verkoop of nog eiendom koop nie.
Met egskeiding word enige eiendomme en ander bates gelykop verdeel, en by afsterwe kan ‘n oorlewende gade dit erf indien dit in die afgestorwe gade se testament aan hulle bemaak is.
Dit maak ook nie saak wie die verband betaal het nie – hierdie huweliksvorm bepaal wie uiteindelik wat kry.
Wie vir die huis of ander bates betaal het, is nie ter sake nie.
Buite gemeenskap van goedere sonder aanwasbedeling
Histories het die toename in huweliksvoorwaardekontrakte gedreig om finansieel onaktiewe gades in die geval van ‘n egskeiding met niks te laat nie.
Daarom lê Suid-Afrikaanse wetgewing huwelike buite gemeenskap van goedere ‘n aanwasbedeling op.
Vir volkome finansiële onafhanklikheid moet jou huweliksvoorwaardekontrak uitdruklik meld dat aanwas uitgesluit is. Dit word die “koue uitsluiting” genoem.
As jy volgens die koue uitsluiting getroud is, bly al die bates wat jy voor en gedurende die huwelik verkry het joune en kan beslag nie daarop gelê word vir jou gade se skuld nie.
Jy kan ook sonder hul toestemming eiendom koop en verkoop en vry van die huweliksbande by kommersiële bedrywighede betrokke raak.
By egskeiding behou jy al jou bates en hoef jy jou slegs te bekommer oor die vervreemding van eiendom wat gesamentlik gekoop is.
In die geval van dood kry die oorlewende lewensmaat net dit wat aan hulle bemaak is.
Hierdie model is ideaal vir paartjies wat hul finansiële vryheid wil behou, hul rykdom onafhanklik wil opbou en hul bates teen mekaar se skuldeisers wil beskerm.
Onthou net dat, wanneer ‘n huwelik ontbind word, albei gades moontlik onderhoud kan eis, selfs al het hulle die koue uitsluitingstelsel gekies.
“Dit beskerm entrepreneurs en beleggers se sakeportefeuljes terwyl dit hul lewensmaats die finansiële risiko’s spaar wat hulle vrywilliglik aanvaar,” sê Kriek.
Buite gemeenskap van goedere met aanwasbedeling
As jou huweliksvoorwaardekontrak nie ‘n klousule bevat wat die aanwasbedeling uitsluit nie, is die aanwasbedeling outomaties van toepassing.
Bates wat jy voor jou huwelik besit en ná jou huwelik verkry het, bly net joune, skuldeisers kan nie daarop beslag lê nie, en jy kan eiendom koop en verkoop soos jy wil.
By egskeiding of die dood kan ‘n persoon egter aanspraak maak op die helfte van die verskil tussen hul boedel en hul gade se boedel van hoër waarde. In werklikheid is dit op die ou end “binne gemeenskap van goedere” sonder al die beperkings gedurende die huwelik.
“Dit verseker dat albei gelykop daarvan afkom, en maak dit vir een gade moontlik om tyd af te neem om die kinders groot te maak, of vir een om te werk sodat die ander een skool of universiteit toe kan gaan, selfs al is hulle buite gemeenskap van goedere getroud. Dit is omdat bates op die ou end verdeel sal word. Dit kan egter steeds beteken dat jy die eiendom wat jy afsonderlik besit het, verloor,” sê Kriek, “omdat bates verkoop kan word om die aanwasbetaling te dek wat by die ontbinding van die huwelik verskuldig is.”
Kry regsadvies
Moet nooit aanneem dat daar nie iets soos ‘n gemeenregtelike gade in Suid-Afrika is nie. Selfs ‘n lewensmaat kan sonder enige formele seremonie of registrasie eienaarskap van jou bates verkry.
As jy ‘n eiendom saam met ‘n lewensmaat of iemand met wie jy ‘n romantiese verhouding het, koop, maak seker dat jy ‘n vennootskapsooreenkoms deur ‘n prokureur laat opstel.
“Wees slim en kry advies van jou prokureur oor wat die beste is; ‘n kontrak kan dalk onromaties klink wanneer die trouklokkies lui, maar dit sal julle albei op die lange duur beskerm,’ sê Kriek.



