Kroonstad eis Drienasie-toernooi trofee terug na vier jaar
Parys het tot dusver met die uitsondering van drie keer die trofee gehad.
Rolbalspelers van Kroonstad se KBC-klub is Saterdag as wenners van die Drienasierolbalkragmeting gekroon. Die jaarlikse toernooi is by Vredefort-rolbalklub beslis, wat ook vanjaar se naaswenner was.



Vir Kroonstadklubvoorsitter, Hannes Horn en sy span, was Saterdag ‘n trotse dag met die trofee wat in 2022 die laaste keer deur Kroonstad verower is.
Die Drienasie-toernooi is sedert 2016 instelling wanneer Vredefort, Parys en Kroonstad mekaar die stryd op die rolbalbaan aansê. Twaalf spelers van die onderskeie dorpe neem in vier spanne met drie spelers elk deel.

Parys het met die uitsondering van Kroonstad se wen in 2022, en 2024 toe Vredefort die toernooi gewen
het, telkens met die louere weggestap.



Ten spyte daarvan dat Hannes ‘n parapleeg is, het hy Saterdag onder dieselfde reëls as sy spanmaats aan
die toernooi in ‘n spesiaal aangepaste rolstoel deelgeneem.

Met ses nasionale medaljes waaronder ook goud op sy kerfstok, is Hannes een van sy span se ervare hande op die rolbalbaan. Op provinsiale vlak het hy reeds twee keer die Vrystaat op die rolbalbaan verteenwoordig. Hy het ook aan die Wilkinson Sword Wêreldsplele vir gestremde spelers deelgeneem.

Hannes vertel dat hy nog altyd ‘n kranige sportman was. Hy het aanvanklik rugby gespeel en selfs sy land by die Olimpiese Spele in die baan- en marathon-items verteenwoordig. Op 27-jarige ouderdom is sy rug vergruis in ‘n motorongeluk, en verloor hy die gebruik van sy bene.
Daarna begin hy in 2002 rolbal speel, maar was dit eers van 2014 dat hy hom ernstig op die sport toegespits het, vertel hy.
Hy speel in toernooie vir beide gestremde en niegestremde spelers, en is hy nie net voorsitter van sy klub nie, maar ook rolbalvoorsitter van die Valsrivier-distrik, Noord-Vrystaat rolbal en Vrystaat rolbal,



